YouVersion Logo
Search Icon

Daniël 10

10
Daniël se visioen by die Tigrisrivier
1In die derde jaar van Kores se koningskap oor Persië het Daniël, wat ook Beltsasar genoem word, ’n openbaring gehad. Die boodskap het van God af gekom, maar dit was baie moeilik om te verstaan. Eers nadat die betekenis in ’n visioen verduidelik is, het ek, Daniël, verstaan waaroor dit gaan.
2Ek het op daardie stadium reeds vir drie weke getreur. 3In hierdie tyd het ek glad nie enige ryk kos of vleis geëet nie. Ek het ook nie wyn gedrink of gebad en my hare gekam nie. 4Op die 24ste van die eerste maand het ek op die wal van die Tigrisrivier gestaan. 5Toe ek opkyk, sien ek ’n man met linneklere aan en ’n belt van fyn goud om sy lyf daar staan. 6Sy lyf het soos ’n edelsteen geblink en sy gesig was so helder soos die lig van ’n weerligstraal. Sy oë het soos tonge vuur gevlam. Sy arms en bene het gelyk soos brons wat blink gevryf was. Toe hy gepraat het, het dit geklink of dit ’n hele skare mense was wat gelyk praat, so hard was sy stem.
7Net ek kon die visioen sien, maar nogtans het die mense wat by my was so bang geword dat hulle weggehardloop en gaan wegkruip het. 8Ek het stom van verbasing alleen daar bly staan en na die visioen gekyk. Dit was so indrukwekkend dat ek net magteloos kon staan en kyk. Ek was doodsbleek van die skrik en verbystering. 9Toe die man met my praat, het ek bewusteloos op die grond geval. 10Hy het my opgetel en alhoewel ek hande-viervoet gestaan het, het ek onophoudelik gebewe. 11Hy sê toe vir my: “Daniël, die Here is vir jou baie lief. Staan regop en luister na wat ek vir jou gaan sê, want ek is spesiaal na jou toe gestuur.” Toe hy dit sê, het ek al bewend opgestaan.
12Hy sê toe vir my: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor. Ek is juis hier in antwoord op jou gebed. 13Die beskermengel van die Persiese Ryk het my 21 dae lank gekeer om na jou toe te kom. Toe het Migael, een van die belangrikste leiers van die engele, my kom help. Daarom kon ek hom daar by die Persiese beskermengel los. 14Ek het gekom om vir jou te kom verduidelik wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie is ’n visioen oor die toekoms.”
15Toe hy dit vir my sê, het ek net sprakeloos na die grond bly staar. 16Die engel wat soos ’n mens gelyk het, het toe sy hand uitgesteek en aan my mond geraak. Daarna kon ek weer praat en ek het vir hom gesê: “Weet u, die visioen het my so ontstel dat ek nog steeds lam van die skok is. 17Watter reg het ek, wat maar net ’n doodgewone mens is, om met so ’n belangrike figuur soos u te praat? Ek het so geskrik dat ek skaars kan asemhaal.”
18Hierdie engel het toe weer ’n keer aan my geraak en ek kon voel hoe my kragte terugkom. 19Toe sê hy vir my: “Moenie bang wees nie, God het jou lief! Ontspan net, dit sal goed gaan met jou. Jy hoef vir niks bang te wees nie!”
Dit het my beter laat voel en ek sê toe vir hom: “U kan nou maar praat, want ek voel sommer baie beter.”
20Hy sê toe vir my: “Verstaan jy nou waarom ek na jou toe gekom het? Ek moet binnekort teruggaan om teen die beskermengel van Persië te veg. Nie lank daarna nie sal die beskermengel van Griekeland ook op die toneel verskyn. 21Maar ek moet eers vir jou vertel wat in die Boek van die Waarheid geskryf staan. Daarna moet ek terug, want ongelukkig is daar niemand anders om my teen die ander twee beskermengele te help behalwe Israel se beskermengel, Migael, nie.

Currently Selected:

Daniël 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in