YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 13

13
Pas op vir vals profete
1“As ’n profeet of ’n dromer vir jou sê dat die een of ander teken of wonder gaan plaasvind en 2dit gebeur soos die profeet of dromer voorspel het, sal hulle jou ook van die Here af wegrokkel. Hulle sal sê jy moet saam met hulle gaan om ander gode te aanbid. 3Jy mag hoegenaamd nie na hulle luister nie. Die Here toets jou net. Hy wil net sien of jy Hom nog liefhet en of jy Hom nog met oorgawe dien. 4Dit is die Here jou God wat jy moet volg, liefhê en dien en vir wie jy moet omgee. Jy moet net na die Here se stem luister en net doen wat Hy sê. 5Die profeet en die dromer wat jou wou verlei, moet onmiddellik doodgemaak word. Hulle wou hê dat jy die rug draai vir die Here, die God wat jou uit Egipte laat wegtrek het en dat jy nie meer volgens die Here se wil moet leef nie. Sulke mense is gevaarlik. Hulle moet dadelik uit julle midde verwyder word.
6“Wanneer jou eie broer of jou kind, jou vrou, jou vriend of enigiemand vir wie jy lief is, jou eenkant toe roep en sê: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode wat ons ouers nie eens geken het nie,’ moet jy oppas. 7En as hulle wil hê dat jy die gode van die mense naby jou en ver van jou af moet aanbid, 8moet jy nie eens na hulle luister nie. Jy moenie simpatie met hulle hê nie en hulle ook nie eens beskerm nie. 9Sorg dat hulle onmiddellik met klippe doodgegooi word. Jy moet sommer die eerste klip optel en gooi. Al die ander moet saam met jou sorg dat hulle doodgemaak word. 10Dié mense het jou van die God probeer vervreem wat jou uit Egipte laat wegtrek het. Daarom moet hulle uit die gemeenskap verwyder word. 11Almal sal hoor wat met daardie slegte mense gebeur het en dit sal hulle afskrik om nie weer so iets te doen nie.
12“Indien mense oor een van die dorpe in die nuwe land wat die Here vir jou gee, slegte dinge begin vertel, 13en as hulle sê dat slegte mense die dorp se inwoners probeer oorreed om vreemde gode te aanbid, 14moet jy die saak baie deeglik ondersoek. As die gerugte waar is, 15moet jy die skuldiges en hulle vee doodmaak. Verwoes die stad ook heeltemal. 16Vat die skuldiges se besittings en bring dit na die dorpsplein toe. Stapel dit alles opmekaar en steek dit aan die brand. Moet nooit die dorp herbou nie; laat die puinhope vir ewig net so lê. 17Moet niks van die dorp of die skuldiges vir jou vat nie. Dan sal die Here nie meer so kwaad wees nie en sal Hy jou opnuut liefhê. Soos Hy jou lank terug al belowe het, sal Hy jou nog ’n groot volk maak. 18Israel, luister na die Here se stem. Leef volgens die gebooie wat ek jou vandag gegee het en doen die dinge waarvan die Here hou.”

Currently Selected:

Deuteronomium 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in