YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 17

17
Moenie ander gode aanbid nie
1“Wanneer jy ’n dier, ’n skaap of ’n bees bring om vir die Here jou God te offer, mag dit nie ’n gebreklike dier wees nie. Met só ’n offer beledig jy die Here. Hy hou net mooi niks daarvan nie.
2“Sê nou maar iemand wat in ’n dorp bly, breek die ooreenkoms wat die Here jou God met jou gemaak het. Sê nou iemand doen ’n baie slegte ding 3deur ander gode te aanbid. Hy buig dalk voor die son of die maan of een van die planete of sterre en aanbid hulle asof hulle gode is. Natuurlik het die Here jou God jou verbied om enige ander gode te aanbid. 4Wel, as jy hoor dat iemand so iets afskuweliks gedoen het, moet jy baie deeglik ondersoek instel na wat daar gebeur het. As dit waar is dat iemand dit gewaag het om so iets afskuweliks in Israel te doen, 5moet jy daardie mens tot by die uitgang van die stad vat. Daar moet julle hom dan met klippe doodgooi. 6Maar jy mag nooit iemand doodmaak net omdat een persoon sê dat hy dit gedoen het nie. Daar moet altyd ten minste twee of drie mense wees wat gesien het dat die persoon iets afskuweliks gedoen het. 7Die mense wat kom vertel het dat die persoon so iets gedoen het, moet altyd die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak. Dan moet die ander mense in die dorp ook die persoon met klippe gooi. Op hierdie manier moet jy keer dat slegte dinge tussen julle gebeur.”
Luister na julle regters
8“Sê nou maar iemand word voor jou hof gedaag, en jy kan nie besluit hoe sy saak hanteer moet word nie. Hierdie persoon het dalk iemand doodgemaak of iemand aangerand of iets anders gedoen wat baie ernstig is. Julle kan nie saamstem hoe om die saak te hanteer of watter straf die skuldige persoon opgelê moet word nie. Hoe hanteer jy dit dan? Wel, gaan na die plek toe wat die Here jou God sal kies om sy huis te laat bou. 9Gaan dan na die kinders van Levi wat by die huis van die Here sal werk. Daar onder hulle is ook mense wat ernstige hofsake kan hanteer. So ’n ernstige saak moet by hulle uitkom. Hulle sal besluit of die persoon skuldig is, en wat sy straf moet wees as hy skuldig is. 10Jy moet dan presies doen wat hulle besluit met die skuldige persoon gedoen moet word. Hulle werk nie verniet in die huis wat die Here sal kies om in te woon nie. Doen alles wat hulle vir jou sê om te doen. Lewe soos hulle sê jy moet. 11Hulle sal besluit wat die wet sê met die persoon gedoen moet word wat skuldig is aan die een of ander misdaad. Jy mag niks verander aan die uitspraak wat hierdie hof gee nie. 12Iemand steur hom dalk nie aan die mense wat in die huis van die Here werk nie. Of hy waag dit om te verander aan die opdrag wat die regter gee oor wat met die skuldige persoon gedoen moet word. Of hy steur hom nie aan wat die persoon sê wat in die huis van die Here werk nie. So ’n persoon moet op die plek doodgemaak word. 13Só sal almal daarvan hoor en te bang wees om ook so te maak.”
Riglyne hoe die koning moet optree
14“Een van die dae trek jy in die land in wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy moet hierdie land vir jouself vat en daarin gaan bly. Dan kan jy dalk op ’n dag begin dink: ons behoort ook ’n koning te hê, want al die ander nasies wat rondom ons bly, het konings.
15“As dit gebeur dat jy ’n koning wil aanstel, moet jy baie seker maak jy kies die man wat die Here jou God vir hierdie werk gekies het. Jy moet iemand kies wat ook ’n Israeliet is. Jy mag nie iemand van ’n ander nasie as koning oor jou aanstel nie. 16Hierdie koning mag nie vir hom ’n groot klomp perde bymekaarmaak nie. Hy mag ook nooit toelaat dat die mense van sy volk na Egipte toe gaan om daar perde te gaan koop nie. Die Here het mos baie duidelik vir jou gesê dat jy nooit weer na Egipte mag teruggaan nie. 17Jou koning mag ook nie vir homself ’n klomp vroue vat en met hulle trou nie. Hulle sal hom dalk beïnvloed sodat hy nie meer die Here alleen dien nie. Hy moet ook nie baie geld en besittings vir homself bymekaarmaak nie.
18“As hy as koning op die troon sit, moet hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het om te doen. Hy moet hierdie boek afskryf van die boek wat by die mense is wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi. En hierdie mense moet toesien dat hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het. 19Hy moet die boek met hierdie opdragte elke dag by hom hou. Hy moet elke dag daaruit lees, solank hy leef. So sal hy leer om die Here te respekteer, as hy alles doen wat Ek jou beveel het om te doen. 20As hy elke dag uit hierdie boek lees en agterkom wat Ek van hom verwag, sal hy nie trots word en begin maak of hy beter is as die ander mense wat saam met hom in die land bly nie. Dit sal ook keer dat hy wegdraai van die pad wat Ek gesê het hy moet loop. Dan mag hy dalk op ander paaie begin loop. As hy alles doen wat Ek hom beveel, sal hierdie koning en sy kinders en kleinkinders vir baie lank as konings oor die volk Israel regeer.”

Currently Selected:

Deuteronomium 17: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in