YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 19

19
’n Leviet en sy byvrou
1Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Daar was ’n Leviet wat in die afgeleë gebiede van die berge van Efraim gebly het. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda gaan haal. 2Hulle twee het probleme gehad en sy het teruggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem. Na ongeveer vier maande 3het hy besluit om te gaan kyk of hy haar kon oorreed om terug te kom. Hy het sy dienaar en twee donkies saamgevat. By die huis aangekom, het die pa hom die huis ingenooi en hom vriendelik verwelkom. 4Sy skoonpa het by hom aangedring om ’n ruk by hulle te bly. Hy het ingestem en drie dae daar gebly. Hulle het saam gekuier en geëet en die nag daar oorgeslaap. 5Op die vierde dag was die man reeds vroeg op en reg om terug te gaan huis toe. Maar sy skoonpa het vir hom gesê: “Eet eers iets, dit sal jou goed doen. Jy kan mos maar ’n bietjie later vertrek.”
6Hy en sy skoonpa het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die skoonpa sê toe vir hom: “Bly nog ’n nag hier en kuier lekker.” 7Die man het al op die punt gestaan om te vertrek, maar sy skoonpa het so by hom aangehou dat hy uiteindelik ingestem en die nag daar deurgebring het. 8Vroeg die môre op die vyfde dag het hy gereedgemaak om te vertrek. Die skoonpa sê toe weer: “Eet eers iets voor jy gaan; jy kan mos vanmiddag ook nog betyds wegkom.”
Hulle het toe weer saam geëet. 9Toe hy en sy byvrou en sy dienaar later die middag gereedmaak om terug te gaan, sê sy skoonpa vir hom: “Kyk, dis al amper donker, jy kan maar net sowel nog ’n nag hier oorbly. Slaap hier oor en die geniet die aand saam met ons. Julle kan môre vroeg opstaan en teruggaan huis toe.”
10Hierdie keer was die Leviet vasberade om terug te gaan. Daarom het hulle klaargemaak en vertrek: hy, sy byvrou, sy dienaar en die donkies. Dit was al baie laat toe hulle in die omgewing van Jebus, dit is nou Jerusalem, aankom. 11Die dienaar sê toe: “Dit word nou te donker om verder te reis. Kom ons bly die nag in Jebus oor.”
12-13Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.” 14Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom. 15Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie.
16Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly. 17Toe die ou man die reisiger op die stadsplein sien sit, vra hy vir hom: “Waarvandaan kom jy? En waarheen is jy op pad?”
18“Ons is op pad terug van Betlehem in Juda af na ’n afgeleë deel in die Efraimsberge,” het die Leviet geantwoord. “Ek is oorspronklik van daar af, maar ek het in Betlehem in Juda gaan kuier. Ons sit hier omdat niemand ons vir die nag ingenooi het nie. 19Maar ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en my dienskneg. Ons het alles wat ons nodig het.”
20Toe sê die ou man vir hom: “Julle is welkom in my huis, ek sal na al julle behoeftes omsien. Julle kan nie hier op die plein oornag nie. Dit is te gevaarlik.”
21Hy het hulle saam met hom huis toe gevat en na hulle donkies omgesien. Daarna het hulle hulle voete gewas en aangesit vir aandete. 22Hulle het net lekker begin kuier toe ’n klomp straatboewe van die stad daar aankom en aan die deur begin hamer. Hulle skree toe vir die ou man: “Bring die man uit wat daar by jou in die huis is. Ons wil seks met hom hê!”
23Maar die ou man het uitgegaan om met hulle te probeer redeneer en vir hulle gesê: “Asseblief, my vriende, ek smeek julle, moet tog nie so ’n afgryslike ding wil doen nie. Hierdie man is tog ’n gas in my huis, dit sou ’n skande wees. 24Kyk, hier is my dogter, sy is nog ’n maagd, vat haar en doen met haar net wat julle wil. Maar moenie so ’n skandelike ding aan hierdie man wil doen nie. ”
25Die mans wou egter nie na hom luister nie. Toe stoot die Leviet sy byvrou by die deur uit. Die boewe het haar gegryp en haar oor en oor verkrag en misbruik tot die volgende môre. Teen dagbreek het hulle haar laat gaan. 26Dit was nog skemer toe die vrou by die huis aangekom het waarin haar man was. Sy het voor die deur inmekaargesak en daar bly lê tot sonop. 27Toe die man later by die deur wou uitgaan om verder te reis kry hy sy byvrou waar sy voor die deur lê met haar hande na die deur toe uitgestrek. 28Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan gaan,” maar sy het hom nie geantwoord nie, sy was reeds dood. Hy het haar liggaam opgetel en op die donkie gesit, en huis toe gegaan.
29By die huis aangekom, het hy ’n mes gevat en haar liggaam in twaalf stukke opgesny. Hy het vir elke stam van Israel ’n stuk gestuur. 30Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het ons nog nooit beleef nie. Nog nie sedert Israel uit Egipte weggetrek het, het iemand al ooit so ’n ding gedoen nie. Ons sal ’n plan moet maak, iets moet hieraan gedoen word!”

Currently Selected:

Rigters 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in