YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 27

27
Mense wat vir die Here beloof is
1Die Here het deur Moses 2vir die Israeliete gesê: “As ’n persoon iemand anders aan die Here beloof het en hy wil sy gelofte nakom, maar hy wil eerder geld vir die Here gee as die persoon self, 3moet dit soos volg bereken word: vir ’n manspersoon tussen twintig en 60 jaar oud moet hy 50 stukke geld gee. Dit is volgens die bepaling van die dienaars by die tent hoeveel elke stuk werd is. 4Vir ’n vrou gee hy 30 stukke. 5Die afkoopprys vir iemand tussen vyf jaar en twintig jaar oud is twintig stukke vir ’n manspersoon en tien vir ’n meisie. 6Tussen ’n maand oud en vyf jaar oud is die bedrag vyf stukke vir die seuntjie en drie vir die dogtertjie. 7Die bedrag vir ’n man bo 60 is vyftien stukke en vir ’n vrou bo dieselfde ouderdom is dit tien stukke.
8“As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.”
Diere wat aan die Here afgestaan moes word
9“As hy ’n dier wat geskik is om geoffer te word aan die Here beloof het, behoort dit geheel en al aan die Here. 10Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort. 11As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word 12om dit te waardeer. Hy bepaal die bedrag wat vir die dier betaal moet word, en daaroor word nie verder gekibbel nie. 13As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.”
Wanneer ’n huis aan die Here afgestaan moet word
14“Wanneer iemand belowe het om sy huis vir die Here te gee, moet die dienaar van die tent af kom en die afkoopwaarde kom bepaal. Of hy dit oor- of onderwaardeer, is nie ter sake nie. Die bedrag wat hy vasgestel het, staan vas. 15As die persoon wat die huis aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde bysit by die bedrag wat bepaal is. Die huis sal dan weer aan hom behoort.”
Wanneer ’n saailand aan die Here afgestaan moet word
16“Iemand kon beloof het om van sy erfgrond, ’n stuk land waarop geplant en geoes kan word, aan die Here af te staan. Die afkoopwaarde daarvan moet dan bepaal word volgens die saad wat gewoonlik daarop gesaai kan word. Vir elke 100 kilogram saad word 50 stukke bereken. 17Indien hy sy saailand tydens die hersteljaar vir die Here beloof het, bly die volle bedrag net so staan. 18Indien dit eers na die hersteljaar is dat iemand sy land vir die Here gee, moet die dienaar van die Here die bedrag minder maak volgens die aantal jare wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. 19As die persoon wat die grond aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde byvoeg by die waarde wat die grond op daardie stadium het. Die grond word dan weer sy eiendom. 20As hy nie die grond afkoop nie, of die Here se werker verkoop dit aan iemand anders, mag dit nie weer afgekoop word nie. 21In die hersteljaar sal die grond egter nie vrykom nie. Dit behoort heeltemal aan die Here soos die banoffers, wat uitsluitlik aan Hom toegewy is. Dit word deel van die Here se eiendom. 22-23Indien iemand ’n saailand aan die Here afstaan wat hy aangekoop het en wat nie deel van sy erfgrond was nie, moet die dienaar by die tent die afkoopwaarde daarvan bepaal volgens die jare wat daar nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die persoon betaal daar en dan die bedrag wat bepaal is aan die personeel by die Here se tent oor. 24In die hersteljaar word die grond teruggegee aan die oorspronklike eienaar. Dit was sy erfgrond. 25Al hierdie berekenings moet volgens die bepalings van die dienaars by die Here se tent gedoen word.”
Die eerste kalwers en lammers wat gebore word
26“Die eerste kalf van ’n koei en die eerste lam van ’n bok of ’n skaap wat gebore word, behoort volgens die reëls alreeds aan die Here. ’n Mens kan nie nog verder een van hulle aan die Here beloof nie, want dit is alreeds Syne. 27As dit die eerste kleintjie is van ’n dier wat nie op die altaar geslag mag word nie, kan die persoon dit afkoop vir een vyfde meer as die afkoopwaarde. As hy dit nie wil afkoop nie, moet die dienaar by die Here se tent dit teen sy vasgestelde afkoopwaarde verkoop.”
Sake wat volledig aan die Here afgestaan is
28“Enigiets wat iemand heeltemal aan die Here afgestaan het en wat nie langer deur ’n mens gebruik mag word nie, of dit nou ’n mens of ’n dier of ’n lap erfgrond is, kan nooit weer afgekoop of verkoop word nie. Dit behoort net aan die Here en aan Hom alleen. 29Geen mens wat as ’n offer aan die Here beloof is, kan weer teruggekoop word nie. Daardie persoon moet doodgemaak word.
30“Een tiende van alles wat die land oplewer, van al die graan en van al die vrugte, behoort uitsluitlik aan die Here en aan Hom alleen. 31As iemand van die tiende wat hy moet afstaan, iets wil terugkoop, moet hy ’n vyfde by die waarde daarvan byvoeg. 32’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word. 33Daar moet nie onderskeid gemaak word tussen goeie en slegte diere wanneer hulle uitgekeer word nie. ’n Dier kan ook nie sommer vir ’n swakker een omgeruil word nie. As iemand tog sal waag om dit te doen, moet hy die dier wat hy eerste uitgekeer het, sowel as die dier waarmee hy dit wou ruil, aan die Here afstaan.”
34Dit is dan al die voorskrifte wat die Here op Sinai deur Moses aan sy volk gegee het.

Currently Selected:

Levitikus 27: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in