2 KRONIEKE 32
32
Assirië val Juda binne
1Nadat Hiskia getrou sy werk gedoen het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër en beveel dat die mure afgebreek moes word. 2Toe Hiskia besef dat Sanherib ook van plan was om Jerusalem aan te val, 3het hy met sy amptenare en militêre raadslede besluit om die watertoevoer uit die fonteine buite die stad af te sny. Hulle het hom hierin ondersteun. 4’n Groot klomp mense het bymekaargekom en die watertoevoer uit die spruite toegestop wat deur die veld geloop het. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriërs hier kom en baie water kry?”
5Daarna het Hiskia sy verdediging versterk deur al die mure te herstel en torings bo-op te bou. Verder het hy ’n tweede muur buite om gebou, die terras by die Dawidstad versterk en ’n groot hoeveelheid wapens en skilde gemaak. 6Hy het ook militêre offisiere oor die volksleër aangestel en hulle beveel om voor hom op die plein by die stadspoort te vergader. Daar het hy hulle bemoedig en gesê: 7“Wees sterk en vol moed. Moenie bang wees vir die koning van Assirië of sy magtige leër nie, want daar is ’n baie groter mag aan ons kant! 8Hy het dalk ’n groot leër, maar hulle is maar net mense. Die Here ons God is by ons en Hy sal ons oorloë vir ons veg!” Hierdie woorde van koning Hiskia van Juda het die volk baie bemoedig.
Sanherib dreig Jerusalem
9Koning Sanherib was besig om die stad Lakis te beleër en het amptenare na Jerusalem toe gestuur met die volgende boodskap vir koning Hiskia van Juda en die hele volk in die stad: 10“Dit is wat koning Sanherib van Assirië sê: Waarop vertrou julle om te dink dat julle my beleëring van Jerusalem sal oorleef? 11Hiskia het gesê: ‘Die Here ons God sal ons red uit die mag van die koning van Assirië.’ Dis duidelik dat Hiskia julle mislei sodat julle van honger en dors sal sterf! 12Julle weet mos dat dit juis Hiskia was wat al die heiligdomme en altare van die Here verwoes het. Hy het Juda en Jerusalem beveel om net by die een altaar by die tempel te aanbid en om net daar alleen te offer.
13“Julle weet mos wat ek en die ander konings van Assirië voor my aan al die volke op die aarde gedoen het! Was enige van die gode van daardie nasies in staat om hulle land uit my krag te red? 14Watter gode van die nasies waarteen my voorgangers geveg het, was in staat om sy mense uit my mag te red? Sal julle God julle dan uit my mag red? 15Moenie dat Hiskia julle vir die gek hou nie! Moenie toelaat dat hy julle so mislei nie! Moenie hom glo nie. Ek herhaal: Geen god van enige nasie of koninkryk was ooit in staat om sy mense uit my mag of enige van my voorgeslag te verlos nie. Hoeveel minder is die kans dat julle God julle uit my mag sal red!”
16Sanherib se boodskappers het die Here God en sy dienaar Hiskia nog meer gespot met belediging op belediging. 17Die koning het ook briewe gestuur waarin hy die Here die God van Israel geminag het. Hy het geskryf:
Net soos die gode van al die ander nasies nie hulle mense uit my mag kon red nie, so sal die God van Hiskia ook misluk.
18Die Assiriërs wat die briewe gebring het, het dit in die Judese dialek geskree aan die volk wat op die mure van die stad versamel het. Daarmee wou hulle die mense op die mure van die stad bangmaak sodat hulle die stad makliker kon inneem. 19Hierdie boodskappers het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy een van die heidense gode is wat deur mense gemaak is.
20Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep. 21Die Here stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak. 22Dit is hoe die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land. 23Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.
Die siekte en herstel van Hiskia
24Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die Here gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee. 25Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die Here hom, Juda en Jerusalem getref. 26Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die Here se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie.
27Hiskia was baie ryk en hoog in aansien. Hy moes addisionele skatkamers bou vir al sy silwer, goud, waardevolle stene, speserye en skilde, asook verskeie ander waardevolle items. 28Hy het ook baie stoorkamers vir sy graan, nuwe wyn en olyfolie gebou en ook baie stalle vir sy beeste, en krale vir sy troppe skape en bokke gemaak. 29Daarby het hy baie dorpe gebou en groot troppe kleinvee en grootvee gehad, want God het hom baie rykdom gegee. 30Hy het die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water gelei deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad. Hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het.
31Maar toe die gesante van Babilonië kom om navraag te doen na die merkwaardige gebeurtenisse wat in die land gebeur het, het God Hom van Hiskia onttrek om hom te toets sodat hy self kon weet wat regtig in sy hart was.
Samevatting van Hiskia se regering
32Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Hiskia en sy dade van toewyding is opgeteken in Die visioen van die profeet Jesaja seun van Amos, wat deel vorm van Die boek van die konings van Juda en Israel. 33Toe Hiskia sterf, is hy begrawe in die boonste deel van die koninklike begraafplaas. Met sy dood het die hele Juda en Jerusalem hom eer bewys. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.
Currently Selected:
2 KRONIEKE 32: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011