2 KRONIEKE 6
6
Salomo seën die volk
1Toe het Salomo gebid:
“O Here, U het gesê
dat U in duisternis woon.
2Daarom het ek vir U
’n glorieryke tempel gebou,
waar U vir altyd kan woon!”
3Daarna het die koning hom gedraai na die hele vergadering van Israel wat voor hom gestaan het en hulle soos volg geseën: 4“Geseënd is die Here die God van Israel, wat getrou was aan die belofte wat Hy aan my pa gemaak het. Hy het vir my pa gesê: 5‘Sedert die dag toe Ek my volk uit Egipte gebring het, het Ek nooit ’n stad gekies onder die stamme van Israel om te dien as die plek waar ’n tempel tot eer van my Naam opgerig moet word nie. Nog minder het Ek ’n koning gekies om my volk Israel te lei. 6Maar nou het Ek Jerusalem gekies as daardie stad, en Dawid as daardie koning oor my volk Israel.’”
7Salomo het verder gesê: “My pa Dawid wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here die God van Israel bou. 8Maar die Here het vir hom gesê: ‘Dit is reg dat jy ’n tempel tot eer van my Naam wil bou, 9maar jy sal dit nie doen nie. In jou plek sal een van jou seuns dit bou.’
10“En nou het die Here gedoen wat Hy beloof het, want ek het koning geword oor Israel in die plek van my pa. Dis tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel, dat ek hierdie tempel gebou het. 11Ek het die verbondsark hier gesit, en in die verbondsark is die verbond wat die Here met die volk van Israel gesluit het.”
Salomo se wydingsgebed
12Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die Here en voor die hele gemeente van Israel. 13Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek. 14Toe het hy gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. 15U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. 16En nou, Here, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ 17Here God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word.
18“Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! 19Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig. 20Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. 21Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.
22“As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê, 23hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien.
24“As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, 25luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het.
26“As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, 27hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.
28“Indien daar ’n hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, sprinkaanplae en voetgangers, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al mag tref, 29luister dan. Luister na die gebed en die smeking van enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. 30Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen na verdienste, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. 31Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.
32“Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam, u kragtige dade en u mag, as hulle na hierdie tempel toe bid, 33hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.
34“As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het, 35luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge en gee aan hulle die oorwinning.
36“As hulle teen U sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby. 37As hulle egter in daardie land van gevangenskap dalk in berou hulle tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’ 38luister tog na hierdie gebede. As hulle heelhartig en in opregtheid hulle tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het, 39luister dan tog na hulle gebede uit u hemel waar U woon, en vergewe u volk wat teen U gesondig het.
40“My God, kyk tog, en luister aandagtig na al hulle gebede in hierdie plek.
41“En nou, Here God,
kom na u rusplek,
U en u magtige ark.
Mag u priesters, Here God,
geklee wees met redding,
en mag u gelowiges
juig in u goedheid.
42 Here God, moenie u gesalfde
verwerp nie.
Onthou tog u onfeilbare liefde
vir u dienaar Dawid.#6:42 Of Onthou tog die getrouheid van u dienaar Dawid.”
Currently Selected:
2 KRONIEKE 6: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011