YouVersion Logo
Search Icon

2 PETRUS 3:8-18

2 PETRUS 3:8-18 NLV

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe! Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt. Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe. Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God. En onthou: Die Here se geduld is ’n geleentheid om verlos te word. Dis presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het. Hy praat hieroor in al sy briewe. Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang. Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie. Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie. Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.