2 SAMUEL 18
18
Absalom word verslaan en sterf
1Dawid het die leër wat by hom was, slaggereed gekry en hoofde oor honderd en oor duisend aangewys. 2Een derde het hy onder Joab se bevel geplaas, een derde onder Joab se broer Abisai, en een derde onder Ittai die Gattiet. Toe sê die koning vir hulle: “Ek sal ook saam met julle uittrek.”
3Maar die soldate het sterk beswaar gemaak. “Nee! U moenie saamgaan nie,” sê hulle. “As ons moet vlug, sal niemand hulle aan ons steur nie; selfs as die helfte van ons doodgaan, sal niemand ag slaan op ons nie. Maar u is soos 10 000 van ons.
“Dit sal beter wees as u ons liewer van die stad se kant af kom help as dit nodig is.”
4“Ek sal maak soos julle sê,” stem die koning in. Hy het by die stadspoort gaan staan terwyl die soldate in afdelings van honderd en duisend by hom verbygegaan het. 5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Julle moet om my ontwil mooi werk met die jong man Absalom.” Al die soldate het gehoor watter opdrag die koning aan sy bevelvoerders gegee het.
6Die leër het op die vlakte teen Israel opgetrek. Die geveg het tot in die Efraimsbos uitgebrei. 7Dawid se leër het die magte van Israel verslaan. Daar was ’n groot slagting en 20 000 soldate het daardie dag gesneuwel. 8Die gevegte het oor die hele gebied uitgebrei. Meer mense het as gevolg van die bos omgekom as wat deur die swaard gesneuwel het.
9Dawid se manne het op Absalom afgekom. Hy het op ’n muil gery. Die muil het onder die digte takke van ’n groot boom deurgegaan waar Absalom se kop tussen die takke vasgevang is. Sy muil het onder hom uit gehardloop sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het. 10Iemand het gesien wat gebeur het en vir Joab gaan vertel: “Weet u, ek het Absalom gesien waar hy aan ’n boom hang!”
11“Wat?” sê Joab. “Jy het hom gesien en hom nie eers doodgemaak nie? Ek sou jou dan met tien silwerstukke en ’n gordel beloon het!”
12“Selfs al sou 1 000 silwerstukke in my hand afgeweeg word, sou ek nie my hand teen die koning se seun gelig het nie,” sê die man. “Ons het tog almal gehoor hoe die koning vir u en Abisai en Ittai beveel: ‘Wees ter wille van my versigtig met die jong man Absalom.’ 13As ek verraad teen my koning sou pleeg deur sy seun dood te maak, sal die koning dit uitvind en u sou nie vir my intree nie.”
14“Dis nou genoeg van jou praatjies,” sê Joab. Hy vat toe drie spiese en steek dit deur Absalom se hart terwyl hy nog lewendig tussen hemel en aarde aan die boom hang. 15Tien van Joab se wapendraers het Absalom omsingel, hom aangeval en afgemaai. 16Daarna het Joab op die ramshoring laat blaas en sy soldate het opgehou om die leër van Israel te agtervolg. 17Hulle het Absalom se liggaam in ’n diep gat in die bos gegooi en ’n groot hoop klippe daarop gestapel. Die hele Israel het egter na hulle huise toe gevlug.
18Terwyl hy nog gelewe het, het Absalom vir homself ’n gedenkteken in die Koningslaagte opgerig, want hy het gesê: “Ek het tog nie ’n seun wat my naam in gedagtenis kan hou nie.” Hy het die gedenkteken na homself vernoem en dit staan vandag nog bekend as “Absalom se Gedenkteken”.
Dawid hoor van Absalom se dood
19Sadok se seun Agimaäs sê toe: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie nuus bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”
20“Nee!” sê Joab vir hom. “Vandag moet jy nie die tyding bring nie. Op ’n ander keer kan jy my boodskapper wees, maar nie vandag nie, want die koning se seun is dood.”
21Toe sê Joab vir ’n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Die man het voor Joab gebuig en begin hardloop.
22Maar Agimaäs het aanhou pleit by Joab: “Wat ook al gebeur, laat ek tog ook agter die Kussiet aan hardloop.”
“Hoekom wil jy gaan, my seun?” sê Joab. “Daar sal geen boodskappersloon vir jou wees nie.”
23“Dit maak nie saak nie. Laat my in elk geval gaan,” pleit hy.
Joab het ingestem: “Nou gaan dan maar!”
Agimaäs het met ’n kortpad oor die Jordaanvlakte gehardloop en die Kussiet verbygesteek.
24Terwyl Dawid in die stadspoort gesit het, het die wag op die poort se dak geklim en na die uitkykpunt by die muur gegaan. Terwyl hy uitkyk, sien hy ’n man wat alleen na hulle toe aangehardloop kom. 25Hy roep toe die koning en sê wat hy sien. “As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.
Soos hy naderkom, 26sien die wag nog iemand wat hardloop. Hy skree toe: “Hier kom nog iemand alleen aangehardloop!”
Die koning antwoord: “Hy sal ook nuus bring.”
27“Dit lyk vir my die eerste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” sê die wag.
“Hy is ’n goeie man en kom met ’n goeie boodskap,” antwoord die koning.
28Toe Agimaäs daar aankom, groet hy die koning en buig laag voor hom. Hy sê: “Geseënd is die Here u God wat die opstandelinge teen die koning in ons mag oorgegee het.”
29“Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning.
Agimaäs antwoord: “Toe Joab vir my sê om te kom, was daar ’n groot rumoer, maar ek weet nie wat gebeur het nie.”
30“Wag ’n bietjie hier eenkant,” sê die koning vir hom. Agimaäs het toe eenkant gaan staan.
31Toe kom die Kussiet daar aan en hy sê: “Ek het nuus vir my heer die koning. Vandag het die Here u verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”
32“Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning.
Die Kussiet het geantwoord: “Mag dit met al u vyande en met almal wat met bose planne teen u in opstand kom, gaan soos met daardie jong man.”
33Die koning was oorstelp van droefheid. Hy het in trane uitgebars en opgegaan na sy kamer bokant die poort. So ver as wat hy loop, het hy geroep: “My seun Absalom! My seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!”
Currently Selected:
2 SAMUEL 18: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011