DEUTERONOMIUM 11
11
1“Jy moet die Here jou God liefhê en al sy voorskrifte, bepalings en bevele gehoorsaam.
2“Luister! Ek praat nie nou met julle kinders wat nie die Here julle God leer ken het of sy grootheid en ontsaglike krag ervaar het nie.
3“Hulle was nie daar om sy tekens en wonderdade teenoor die farao en die hele land van Egipte te sien nie. 4Hulle het nie gesien wat die Here aan die Egiptiese leër, perde en strydwaens gedoen het toe Hy hulle in die Rietsee#11:4 Of Rooisee. laat verdrink het toe hulle julle agternagesit het nie. Ook nie hoe Hy hulle so vernietig het dat hulle steeds nog magteloos is nie. 5Hulle het nie gesien hoe die Here julle in die woestyn versorg het totdat julle by hierdie plek aangekom het nie. 6Hulle was nie daar om te sien wat Hy aan Datan en Abiram, die seuns van Eliab, ’n afstammeling van Ruben, gedoen het nie. Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle familie ingesluk met hulle tente en elke lewende ding wat hulle besit het. 7Maar julle het met julle eie oë al hierdie magtige dade van die Here aanskou!”
Gehoorsaamheid aan God
8“Daarom, gehoorsaam elke gebod wat ek julle vandag gee sodat julle sterk kan wees om in te gaan en die land in besit te neem wat julle nou binnegaan. 9As julle gehoorsaam is, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat die Here vir julle voorouers en hulle nageslag gesweer het dat Hy dit aan hulle sal gee. Dit is ’n uiters vrugbare land. 10Die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie. Daar moes julle julle saad plant en met julle voete leivore maak om dit nat te lei soos in ’n groentetuin. 11Dit is ’n land met berge en valleie met baie reën van bo. 12Dit is ’n land waarvoor die Here jou God sorg. Dag vir dag, dwarsdeur die jaar, hou Hy sy oog op die land!
13“As julle al die gebooie wat ek vandag vir julle gee, noukeurig gehoorsaam, en as julle die Here julle God met hart en siel liefhet en Hom dien, 14sal Hy vir julle reën gee op die regte tyd sodat julle koring, druiwe vir wyn en olywe vir olie kan oes. 15In die veld sal Hy weiding voorsien vir julle diere sodat julle oorgenoeg kan hê om te eet.
16“Wees versigtig om nie verlei te word en weg te draai van die Here om ander gode te aanbid nie. 17As julle dit doen, sal die woede van die Here teen julle ontvlam. Hy sal die hemel toesluit sodat dit nie reën nie en julle oeste misluk. Dan sal julle gou omkom in die goeie land wat die Here aan julle gee. 18Verbind julleself heelhartig aan hierdie woorde van die Here. Bind die woorde aan julle hande as ’n herinneringsteken en dra dit as ’n teken op julle voorkoppe. 19Leer dit vir jou kinders. Praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy weer opstaan. 20Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. 21Dan sal julle en julle nageslag lank, so lank as wat die hemel bo die aarde is, kan bly in die land wat die Here aan julle voorouers belowe het.
22“Gehoorsaam noukeurig al hierdie gebooie wat ek vir julle gee deur die Here julle God lief te hê, volgens sy wil te lewe en Hom aan te hang. 23Dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uitdryf en julle sal hulle land oorvat al is hulle groter en sterker as julle. 24Op elke plek waar julle julle voete neersit, sal dit julle s’n word. Julle grense sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanon in die noorde, van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste#11:24 Of die westelike see.. 25Niemand sal teen julle kan staande bly nie, want oral waar julle in die land gaan, sal die Here julle God skrik en vrees voor julle uitstuur, soos Hy beloof het.
26“Vandag gee ek aan julle die keuse tussen seën en vloek! 27Julle sal geseën word as julle die gebooie gehoorsaam wat die Here julle God vandag vir julle gee. 28Julle sal ’n vloek ontvang as julle die gebooie van die Here julle God verwerp en wegdraai van sy pad deur vreemde gode te aanbid.
29“Wanneer die Here julle God julle inbring in die land om dit in besit te neem, moet julle op Gerisimberg ’n seën aankondig en op Ebalberg ’n vloek. 30(Hierdie twee berge lê wes van die Jordaanrivier in die land van die Kanaäniete wat in die Jordaanvallei#11:30 Of Araba. naby die dorp Gilgal woon. Dit is in die weste, nie ver van die eikebome van Moré nie.)
31“Julle staan op die punt om die Jordaan oor te steek en die land wat die Here julle God aan julle gee, in besit te neem en daar te gaan woon. 32Maak seker dat julle al die voorskrifte en bepalings wat ek aan julle gee, gehoorsaam.”
Currently Selected:
DEUTERONOMIUM 11: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011