DEUTERONOMIUM 16
16
Paasfees
1“Vier altyd die Paasfees tot eer van die Here jou God op die regte tyd in die vroeglente. Dit was die tyd toe die Here jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei het. 2Jou paasoffer kan uit jou kleinvee of beestrop kom en moet geoffer word op die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer. 3Eet sewe dae lank brood waarin daar nie suurdeeg is nie. Hierdie brood sal jou lewenslank herinner aan jou swaarkry en toe jy haastig uit Egipte weg is. 4Deur die hele land mag daar vir sewe dae lank geen suurdeeg in enige huis wees nie. Daar mag ook niks van die vleis van die paaslam tot die volgende môre oorbly nie.
5“Die paasoffer mag nie geëet word in enige van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee nie. 6Dit moet geoffer word op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam te laat eer. Offer dit daar teen sononder ter herdenking aan julle uittog uit Egipte. 7Braai die lam en eet dit op die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug na julle huise toe.
8“Vir die volgende ses dae mag jy net brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Op die sewende dag moet die volk voor die Here jou God bymekaarkom. Op daardie dag mag jy glad nie werk nie.”
Fees van die Weke
9“Tel sewe weke af vandat jy met die graanoes begin het. 10Vier dan die Fees van die Weke#16:10 Of Oesfees. om die Here jou God te eer. Bring ’n vrywillige offer aan Hom in verhouding met die seën wat jy ontvang het. 11Dit is ’n tyd om vrolik te wees in die teenwoordigheid van die Here jou God op die plek wat Hy sal kies waar sy Naam geëer sal word. Vier die fees saam met jou hele gesin, al jou slawe, die Leviete uit die dorpe, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees wat by jou is. 12Onthou dat jy ’n slaaf was in Egipte. Wees daarom versigtig om al die gebooie te gehoorsaam.”
Die Huttefees
13“’n Ander fees, die Huttefees, moet aan die einde van die oestyd sewe dae lank gevier word. Dit gebeur nadat die graan van die dorsvloer en die druiwe van die parskuip ingesamel is. 14Die fees is ’n vrolike geleentheid van blydskap saam met jou huisgesin, jou slawe, die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees uit jou omgewing. 15Vier hierdie fees sewe dae lank om aan die Here jou God eer te gee op die plek wat Hy kies. Dit is die Here jou God wat aan jou goeie oeste gee en jou seën in al jou werk. Hierdie fees is ’n tyd van uitbundige vrolikheid vir almal.
16“Elkeen in Israel moet elke jaar hierdie drie feeste vier: Paasfees, die Fees van die Weke en die Huttefees. Elke man moet voor die Here jou God kom verskyn en elkeen moet ’n gawe vir die Here bring op die plek wat Hy sal kies. 17Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die Here jou God ontvang het.”
Reg en geregtigheid
18“In al die dorpe wat die Here jou God vir jou gee, moet regters en amptenare aangestel word. Hulle moet die volk regverdig regeer. 19Jy mag nie die reg verdraai of partydig wees nie. Moet nooit ’n omkoopgeskenk aanvaar nie, want omkoopgeskenke verblind die oë van wyse mense en verdraai die woorde van die regverdige. 20Laat reg en geregtigheid geskied. So sal jy bly lewe en die land in besit neem wat die Here jou God vir jou gee.
21“Jy mag nooit ’n Asjerapaal langs die altaar van die Here jou God oprig nie. 22Jy mag ook nooit heilige pilare van aanbidding oprig nie. Die Here jou God haat sulke dinge.”
Currently Selected:
DEUTERONOMIUM 16: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011