YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 33

33
Moses seën die volk
1Dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die volk Israel voor sy dood geseën het:
2“Die Here kom van Sinai
en skyn oor ons
vanaf Seïrberg.
Hy skyn vanaf Paranberg
en kom met tienduisende
hemelwesens,
met krygers aan sy regterkant.
3U het u volk lief,
al u heiliges is in u hand.
Hulle sit aan u voete
en aanvaar u voorskrifte.
4Moses het ons die wet geleer,
die spesiale besitting
van die vergadering van Israel#33:4 Of Jakob..
5Die Here het koning geword
in Israel#33:5 Of Jesurun.
toe die leiers van die volk
bymekaargekom het,
toe die stamme van Israel
vergader het.”
6Moses het die volgende oor die stam van Ruben gesê:#33:6 Hierdie gedeelte ontbreek in die grondteks.
“Laat die stam van Ruben bly leef
en nie uitsterf nie,
al is hulle stam maar klein.”
7Moses het die volgende oor die stam van Juda gesê:
Here, luister na die roepstem
van Juda!
Bring hom terug na sy volk toe.
Gee hom krag
om sy saak te verdedig,
help hom teen sy vyande!”
8Moses het die volgende oor die stam van Levi gesê:
Here,
u Tummim en Urim is veilig
by u getroue dienaar.
By Massa het U hom
op die proef gestel.
By die Meribawaters
het U met hom geworstel.
9Van sy pa en ma het hy gesê:
‘Ek het geen ontsag
vir hulle nie.’
Sy broers het hy nie erken nie,
en sy seuns nie
as familie beskou nie.
Maar die Leviete
het u woord gehoorsaam
en het u verbond bewaar.
10Laat hulle nou u bepalings
aan Jakob leer
en u gebooie aan Israel.
Hulle sal reukwerk voor U bring
en brandoffers
op u altaar offer.
11Seën die Leviete, o Here,
neem hulle werk aan.
Verbrysel die heupe
van hulle vyande,
tref hulle teenstanders
sodat hulle
nie weer sal opstaan nie.”
12Van die stam van Benjamin
het Moses gesê:
“Die Here het Benjamin lief
en hy leef veilig by Hom.
Hy omvou hom vir altyd
en bewaar hom
van elke kwaad.”
13Oor die stam van Josef het Moses die volgende gesê:
“Mag die Here
sy grond seën
met die gawe
van reën van die hemel,
met water van onder die aarde,
14met die rykdom
wat groei in die son
en die oorvloed van elke maand,
15met die beste van die ou berge,
en die vrugbaarheid
van die ewige berge,
16met die beste gawes
van die aarde en sy volheid,
en die guns van die Een
wat verskyn het
in die brandende doringbos.
Mag hierdie seëninge
rus op die kop van Josef,
op die kop van die prins
onder sy broers.
17Josef het die krag en die glorie
van ’n jong bul,
sy krag is soos die horings
van ’n buffel.
Hy sal veraf nasies gaffel,
hulle verdryf
tot aan die einde van die aarde.
Dit is my seën
vir die skares van Efraim,
vir die duisende van Manasse.”
18Moses het die volgende gesê oor die
stamme van Sebulon en Issaskar#33:18 Die woorde en Issaskar ontbreek in die grondteks.:
“Mag Sebulon voorspoedig wees
in al sy reise.
Mag Issaskar voorspoedig wees
in sy tente.
19Hy roep volke op na die berg
om daar die regte offers
te bring.
Hy sal voordeel trek
uit die rykdom van die see
en die versteekte skatte
van die sand.”
20Moses het die volgende oor die stam
van Gad gesê:
“Geseënd is die een
wat die grondgebied van Gad
groter maak!
Gad is daar soos ’n leeu,
gereed om ’n arm of ’n kop
af te skeur.
21Hy het die beste deel
van die land
vir hom gevat.
’n Leiersaandeel
is aan hom toegewys.
Toe die leiers van die volk
byeenkom,
het hy die wil van die Here
uitgevoer,
sy bepalings vir Israel
gehoorsaam.”
22Moses het die volgende oor die stam
van Dan gesê:
“Dan is soos ’n jong leeu
wat uit Basan spring.”
23Moses het die volgende oor die stam
van Naftali gesê:
“Naftali, jy is begunstig
en vol van die seën
van die Here.
Jy sal die see en die suide besit.”
24Van die stam van Aser het Moses gesê:
“Mag Aser bo ander seuns
geseënd wees.
Mag hy in die guns wees
van sy broers,
mag hy sy voete met olie was.
25Mag die slotte van jou poorte
van yster en brons wees,
mag jou krag soveel wees
soos jou dae!”
26“Daar is niemand
soos die God van Israel#33:26 Of Jesurun. nie.
Hy ry deur die hemel
om jou te help,
oor die wolke in sy majesteit.
27Die ewige God
is jou skuilplek
en onder jou is sy ewige arms.
Hy verdryf die vyand
voor jou uit.
Hy beveel: ‘Vernietig hulle!’
28Daarom sal Israel
in veiligheid woon,
en die voorspoedige Jakob
in sekerheid,
in ’n land van koring en wyn,
waar dou van die hemel drup.
29Geseënd is jy, Israel!
Wie is nog soos jy,
’n volk deur die Here gered?
Hy is die skild wat jou beskerm,
jou magtige swaard!
Jou vyande buig laag voor jou
en op hulle offerplekke
sal jy trap!”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 33: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in