YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 8

8
1Daardie selfde dag nog het koning Ahasveros alles wat Haman, die vyand van die Jode, besit het, vir koningin Ester gegee. Ester het vir die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Mordegai het na die koning toe gekom. 2Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit vir Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se besittings aangestel.
’n Tweede proklamasie
3Ester het toe nog ’n keer gewaag om met die koning te kom praat. Sy het huilend by sy voete neergeval en hom gesmeek om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, tot niet te maak. 4Die koning het weer sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor hom kom staan. 5Sy het gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is, en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman, seun van Hammedata die Agagiet, terug te trek. Hy het daarin geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. 6Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so ’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?”
7Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei. 8’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.”
9Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan#8:9a Volgens ons berekening 25 Junie 474 vC.. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië#8:9b Letterlik Kus. wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf. 10Mordegai het namens koning Ahasveros laat skryf en die briewe met die koning se seëlring laat verseël. Die briewe is met boodskappers op resiesperde uit die koning se stalle gestuur.
11In die briewe is geskryf dat die koning aan al die Jode in elke stad die vergunning gee om bymekaar te kom om hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle en hulle kinders en vroue aanval, doodmaak en vernietig en uitroei. Hulle kon op hulle besittings beslag lê.
12Die dag waarop hulle dit in al die provinsies van koning Ahasveros kon doen, was die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar.
13’n Afskrif van die proklamasie moes na elke provinsie gaan en as wet afgekondig word. Al die volke moes daarvan kennis neem. Die Jode moes reg wees om hulle op daardie dag op hulle vyande te wreek.
14Die boodskappers op die perde uit die koning se stalle het toe, volgens die opdrag van die koning, haastig vertrek. Die proklamasie is tegelyk ook in die hoofstad Susan afgekondig.
15Toe Mordegai van die koning af weg is, was hy geklee in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op sy kop, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan was verheug en baie bly oor die proklamasie. 16Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en hulle het aansien onder die ander volke gehad.
17In elke provinsie en in elke stad waar die besluit en proklamasie van die koning afgekondig is, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het ’n feesdag uitgeroep en saam geëet. Baie mense uit die ander volksgroepe het Jode geword omdat hulle bang was vir die Jode.

Currently Selected:

ESTER 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in