EKSODUS 27
27
Aanwysings vir die altaar
1“Maak ’n vierkantige altaar van akasiahout. Dit moet twee en ’n half meter aan elke kant wees en een en ’n half meter hoog. 2Sit ’n horing vas op elke hoek. Alles moet ’n eenheid vorm. Trek die altaar en die horings met koper oor. 3Die houers vir die as, die grafies, die bakke, die vleishake en die vuurpanne vir die altaar moet alles van koper gemaak word. 4Jy moet ’n koperrooster om die altaar vassit. Sit ook ringe aan die vier hoeke van die altaar vas. 5Sit die rooster net onder die rand van die altaar vas sodat dit tot by die helfte van die altaar gaan. 6Om die rooster te dra moet jy drapale van akasiahout maak en hulle met koper oortrek. 7Sit die pale deur die ringe aan die kante om dit daaraan te dra. 8Die altaar is van plank en hol binne. Jy moet dit presies net so maak soos jy dit op die berg gesien het.”
Aanwysings vir die binnehof
9“Maak ’n binnehof vir die tabernakel. Skort dit af met ’n gordyn van fyn linne. Aan die suidelike kant moet dit 44 meter lank wees. Die gordyn word regop gehou deur twintig regop koperpale wat op twintig voetstukke van koper staan. 10Die gordyn hang aan hakies van silwer wat aan silwergordynpale bo-op die regop pale vas is. 11Aan die noordekant van die binnehof is dit presies dieselfde. Daar is die gordyn ook 44 meter lank. Dit hang aan silwerhakies en pale wat op kopervoetstukke rus. 12Die afskorting aan die westekant van die voorhof is 23 meter lank. Daar is tien koperpale op hulle voetstukke. 13Aan die oostekant is die opening ook 23 meter lank. 14Die ingang na die binnehof kom aan die oostekant. Aan die regterkant van die opening is daar ’n linnegordyn van sewe en ’n half meter lank wat aan drie regop pale op hulle voetstukke hang. 15Die gordyn aan die linkerkant is ook van sewe en ’n half meter linne aan drie pale op hulle voetstukke.
16“Vir die ingang na die binnehof moet jy ’n afskorting van tien meter maak. Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is. Dit moet ook geborduur wees. Dit hang aan vier regop pale op hulle voetstukke. 17Al die regop pale van die binnehof word aan mekaar verbind met silwergordynpale waaraan daar silwerhakies is. Elke paal staan op sy voetstuk van koper. 18Die binnehof is dus 44 meter lank en 23 meter breed. Dit word afgeskort met ’n linnegordyn wat twee en ’n half meter hoog is. Die gordyn hang aan regop pale wat van koper gemaak is.
19“Alles wat binne-in die tabernakel gebruik word, ook die tentpenne waarmee die afskorting buite geanker word, moet van koper gemaak word.
20“Sê vir die mense van Israel om vir jou suiwer olyfolie vir die kandelaar te bring. Dit moet sonder ophou bly brand. 21Dit moet in die tabernakel net voor die tentafskorting staan. Aäron en sy seuns moet die lampies aan die kandelaar in die tent#27:21 Of tent van ontmoeting voor die gordyn net buite die versoendeksel met die getuienis. dwarsdeur die nag voor die Here laat brand. Dit is ’n vaste reël vir Israel. Elke geslag van Israel moet dit doen.”
Currently Selected:
EKSODUS 27: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011