EKSODUS 32
32
Die goue kalf
1Toe die volk sien dat Moses lank wegbly en nie van die berg af kom nie, het hulle na Aäron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het wat ons uit Egipte weggelei het nie.”
2Aäron het toe vir hulle gesê: “Haal julle vroue en seuns en dogters se goue ringe van hulle ore af en bring dit hier vir my.”
3Almal van die volk het toe die goue ringe afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Aäron het dit by hulle gevat, dit gesmelt en daarvan ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het!”
5Toe Aäron dit sien, het hy ook ’n altaar voor die kalf gebou. Hy het aangekondig: “Ons hou môre ’n fees vir die Here!”
6Van vroeg die volgende oggend af het hulle brandoffers en vrede-offers gebring. Die volk het geëet en gedrink. Dit het later begin handuit ruk.
7Die Here het toe vir Moses gesê: “Klim dadelik van die berg af! Die volk wat jy uit Egipte bevry het, is besig om lelike dinge te doen. 8Hulle het van die koers afgewyk wat Ek vir hulle gewys het. Hulle het vir hulle ’n kalf gemaak wat hulle aanbid en waarvoor hulle offer. Hulle sê daarvoor: ‘Hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’”
9Die Here sê toe vir Moses: “Ek het nou gesien dat hierdie volk hulle eie kop gaan volg. 10Moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitwis. Ek sal eerder van jou ’n groot nasie maak.”
11Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie. Hy het vir die Here gevra: “Here, waarom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag en sterk mag uit Egipte bevry het? 12Waarom sal U die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle om die bos gelei. Hy het hulle bevry sodat Hy hulle tussen die berge kon uitwis en van die aarde af laat verdwyn’? Moet tog asseblief nie kwaad word nie. Sien af daarvan en moenie hierdie ramp oor hulle laat kom nie. 13Onthou tog dat U ’n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob#32:13 Of Israel..
“U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’”
14Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring.
15Daarna het Moses omgedraai en van die berg afgeklim. Hy het die klippe waarop die verbond geskryf was in sy hand gehou. Dit was op albei kante, voor en agter, geskryf. 16Dit was God se eie handewerk. Hy het self daarop geskryf.
17Toe Josua hoor hoe die volk tekere gaan, het hy vir Moses gesê: “Dit klink of daar oorlog in die kamp is!”
18Moses het geantwoord:
“Nee, dis nie die gejuig
van oorwinning nie;
ook nie die gekerm
van verloorders nie.
Dis die lawaai van feesviering
wat ek hoor!”
19Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek. 20Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink.
21Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?”
22“Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen. 23Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’ 24Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!”
25Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk handuit ruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande. 26Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die Here se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan.
27Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’”
28Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf.
29Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die Here toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die Here sal julle seën.”
Moses pleit vir Israel
30Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het verskriklik oortree. Ek sal egter weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir die sonde wat julle gedoen het.”
31Moses het toe teruggegaan na die Here toe. Hy het vir Hom gesê: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike sonde gedoen. Hulle het vir hulle ’n afgod van goud gemaak. 32Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het.”
33Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal net die name van dié wat teen My oortree het, uitvee uit die boek. 34Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan. Ek sal met hulle wat gesondig het, afreken op die dag wanneer Ek hulle tot rekenskap roep.”
35Die Here het ’n groot ramp oor die volk laat kom omdat hulle die kalf aanbid het wat Aäron vir hulle gemaak het.
Currently Selected:
EKSODUS 32: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011