HEBREËRS 9
9
Ons Hoofpriester dien in ’n baie uitnemender heiligdom
1Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens en ’n aardse heiligdom gehad.
2Wat die aardse heiligdom betref: die verbondstent het twee vertrekke bevat. In die eerste een, dié een wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Aan die agterkant van die Heilige was daar ’n tweede gordyn#9:3 Die eerste gordyn was by die ingang na die Heilige., en daaragter was die tweede vertrek wat bekend gestaan het as die Allerheiligste. 4Daardie vertrek het die goue reukofferaltaar bevat en die ark van die verbond wat heeltemal met goud beklee was. Binne-in die ark was die goue kruik met manna, Aäron se kierie wat gebot het, en die kliptablette van die verbond waarop die Tien Gebooie gegraveer was. 5Bo-op die ark het die glansende gerubs die deksel van die ark – die plek van versoening – met hulle vlerke oorskadu. Ek kan egter nie nou op die besonderhede ingaan nie.
6Wat die erediensbepalings betref: Met alles so ingerig, het die priesters gereeld in die voorste vertrek van die verbondstent ingegaan om hulle dienste te verrig. 7Maar in die agterste vertrek, die Allerheiligste, kon net die hoofpriester ingaan en dit net een keer per jaar – boonop altyd met bloed wat hy aan God moes offer vir sy eie sondes sowel as vir die sondes wat die volk in hulle onkunde begaan het. 8Deur hierdie bepalings wys die Heilige Gees daarop dat die Allerheiligste nog nie vir almal oop was solank die voorste gedeelte van die verbondstent nog sy plek gehad het nie. 9Die tekortkomings van die ou erediens bevat vir ons vandag ’n les deurdat gawes en offers gebring is wat nie vir die een wat dit bring ’n volkome skoon gewete kon gee nie 10en net te doen gehad het met kos en drank en allerlei reinigingsgebruike – dinge wat net die uiterlike raak en wat net sou geld totdat God alles sou regstel.
11Maar nou het Christus as Hoofpriester gekom om al God se weldade te bedien. Hy het daardie groot, volmaakte heiligdom in die hemel binnegegaan wat nie die handewerk van mense is nie, en dus nie deel uitmaak van hierdie skepping nie. 12Eens en vir altyd het Hy met bloed in die Allerheiligste ingegaan, maar nie met die bloed van bokke en kalwers nie, nee, Hy het met sy eie bloed daar ingegaan en vir ons ’n ewige verlossing bewerk.
13Onder die ou stelsel kon die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers, wanneer dit oor mense gesprinkel word, hulle liggame van rituele besoedeling reinig. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien! 15Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.
16As iemand sterf en hy laat ’n testament na, kry niemand enigiets voordat die testateur werklik as dood bewys is nie. 17’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie. 18Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond#9:18 In die Grieks word dieselfde woord vir testament en verbond gebruik. nie sonder bloed ingestel is nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel. 20Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.”#9:20 Eks 24:8. 21En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens. 22Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.
23Dit is waarom die aardse verbondstent en alles daarin – wat maar net afbeeldings van die dinge in die hemel is – met die bloed van diere gereinig moes word. Maar die hemelse dinge self het ’n baie beter soort offerande as hierdie nodig gehad.
24Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak#9:24 Of ter wille van ons. voor God te verskyn. Hy het nie in die aardse heiligdom ingegaan nie – dit is tog maar net ’n namaaksel van die ware een. 25Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoofpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie. 26Anders sou Christus mos telkens weer moes sterf van die begin van die wêreld af! O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem.
27Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel, 28net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem. Hy sal weer kom, maar dan nie met die oog op die verlossing van sonde nie. Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos.
Currently Selected:
HEBREËRS 9: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011