YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 12

12
Jeremia vra oor die Here se regverdigheid
1 Here,
U behandel my
altyd regverdig
as ek ’n klagte
na U toe bring.
Maar nou wil ek my saak stel:
Hoekom gaan dit goed
met slegte mense?
En hoekom is oneerlike mense
so gelukkig?
2U het hulle geplant
en hulle wortels
diep geanker;
daarom groei hulle goed
en dra hulle vrugte.
Hulle praat graag oor U,
maar hulle bedoel nie
’n woord daarvan nie.
3Maar U ken my, Here.
U sien my
net soos ek is.
U toets my ingesteldheid
teenoor U.
Sleep hierdie mense weg,
net soos slagskape!
Pas hulle op vir die slagtyd!
4Hoe lank moet hierdie land
nog treur?
Selfs die grasvelde
het verdroog.
Die diere en die voëls
het ook verdwyn
weens die sonde
van die inwoners
van die land.
En tog sê hulle:
“Die Here gaan niks doen nie!”
Die Here antwoord Jeremia
5“As jy moeg raak
om teen mense te hardloop,
hoe sal jy ooit teen perde
kan meeding?
As jy struikel en val
in ’n land waar dit veilig is,
wat sal jy doen
in die digte bosse
by die Jordaan?
6Jou broers, jou naby familie
het jou verraai.
Hulle is daarop uit
om jou kwaad aan te doen.
Moenie hulle vertrou nie,
selfs nie as hulle
vriendelik met jou praat nie.
7“Ek het my volk prysgegee,
hulle wat my eiendom is.
Ek het hulle wat Ek liefhet
aan hulle vyande oorgegee.
8My eie volk het vir My gebrul
soos ’n leeu in ’n bos.
Daarom het Ek hulle behandel
asof Ek hulle haat.
9Die volk wat Ek vir My gekies het,
het só afstootlik vir My
geword soos ’n aasvoël.
En nou is húlle omring
deur ander aasvoëls!
Laat al die roofdiere kom
sodat hulle hulle karkasse
kan skoonvreet!
10Baie herders het my wingerd
verniel,
en my druiwe
vertrap.
Hulle het my vrugbare grond
’n verlate woesteny gemaak.
11Hulle het dit ’n woestyn
gemaak
wat verwoes voor My lê
omdat niemand daarvoor
omgee nie.
12Soldate kom oor die heuwels
in die woestyn.
Die swaard van die Here
verteer mense
van hoek tot kant.
Niemand sal kan
ontsnap nie.
13Hulle het koring gesaai,
maar sal dorings oes.
Hulle moeite was tevergeefs.
Staan dan maar beskaam,
sonder oes,
want die gloeiende woede
van die Here
het julle getref.”
’n Boodskap vir Israel se bure
14Die Here sê: “Wat die buurvolke betref, hulle is sleg. Hulle probeer die erfenis wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Ek sal Juda uit hulle mag red. 15Maar nadat Ek al hierdie volke uit hulle lande weggeneem het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land, waar sy eiendom is, laat terugkom. 16Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar Ek verwag van hulle om die gewoontes van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer om ’n eed te sweer deur te sê: ‘So waar as die Here lewe.’ Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer. 17As enige van hierdie volke nie gehoorsaam wil wees nie, sal Ek hulle met wortel en tak uitroei. Die Here het dit gesê!”

Currently Selected:

JEREMIA 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for JEREMIA 12