YouVersion Logo
Search Icon

1 Konings 16

16
1Die Here het vir Jehu seun van Ganani gesê hy moet vir Baesa sê: 2“Ek het jou uit die stof opgetel en Ek het jou laat regeer oor my volk Israel. Maar jy het gedoen soos Jerobeam gedoen het, jy het my volk Israel sonde laat doen, en hulle het My kwaad gemaak. 3Daarom sal Ek 'n vuur aansteek teen jou en teen jou koningshuis. Dit sal sleg gaan met jou koningshuis, so sleg soos met die koningshuis van Jerobeam. 4Wanneer iemand uit jou nageslag in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.”
Baesa sterf
5Al die ander dinge wat Baesa gedoen het, ook die belangrike dinge, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 6Baesa het gesterf en hulle het hom begrawe in die stad Tirsa. Sy seun Ela het koning geword ná hom. 7Die Here het ook nog vir Jehu seun van Ganani gestuur om met Baesa en sy familie te praat oor al die dinge wat hy gedoen het. Die Here het nie gehou van die dinge wat hy gedoen het nie, dit het die Here kwaad gemaak. Hy was soos Jerobeam en hy het Jerobeam se hele nageslag vermoor.
Ela, koning van Israel
8Ela seun van Baesa het koning van Israel geword in die ses-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Ela was twee jaar lank koning in Tirsa. 9Ela se offisier Simri was die hoof van die helfte van Ela se oorlogkarre, en Simri het saam met ander manne 'n plan gemaak teen Ela. Ela was besig om te drink en dronk te word in die huis van Arsa, die hoof van die paleis in die stad Tirsa. 10Simri het daarnatoe gegaan en hy het vir Ela doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Simri het koning geword ná Ela. 11Nadat Simri koning geword het, het hy almal in die koningshuis van Baesa laat doodmaak. Hy het nie een man of seun of iemand in die familie of 'n vriend van Baesa laat lewe nie. 12Dit het gebeur soos die Here voorheen vir die profeet Jehu gesê het om vir die mense te sê. 13Dit was oor die sondes wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en oor wat hulle die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien. 14Al die ander dinge wat Ela gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
Simri, koning van Israel
15Simri het koning van Israel geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was sewe dae lank koning in Tirsa. Sy soldate was in die kamp by die stad Gibbeton in die land van die Filistyne. 16Die soldate het gehoor dat Simri saam met ander mense planne gemaak het en dat hulle die koning vermoor het. Die soldate het toe daardie dag in die kamp vir Omri, die hoof van die leër, koning gemaak van Israel. 17Omri en al die manne van Israel het van Gibbeton na Tirsa gegaan en hulle het die stad van al die kante aangeval. 18Toe Simri sien dat hulle die stad oorwin, het hy gevlug tot agter die sterk mure van die paleis. Hy het die paleis bo-oor hom aan die brand gesteek en hy het gesterf. 19Dit het gebeur omdat Simri sonde gedoen het en dinge gedoen het waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos Jerobeam, hy het dieselfde sonde gedoen wat Jerobeam gedoen het en wat Jerobeam die mense van Israel laat doen het. 20Al die ander dinge wat Simri gedoen het en sy planne wat hy gemaak het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
Omri, koning van Israel
21Daarna was die mense van Israel verdeel in twee groepe. Een helfte van die volk het vir Tibni seun van Ginat gekies. Hulle wou hom koning maak. Die ander helfte van die mense het vir Omri gekies. 22Die mense wat vir Omri gekies het, was meer as die mense wat vir Tibni gekies het. Toe Tibni sterf, het Omri koning geword. 23Omri het koning van Israel geword in die een-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was twaalf jaar lank koning, ses jaar lank in Tirsa. 24Omri het Samaria-berg van Semer gekoop. Hy het vir Semer twee talente silwer daarvoor betaal en hy het daar 'n stad gebou. Hy het die stad Samaria genoem, dit was die naam van die man aan wie die berg behoort het. 25Omri het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom. 26Hy het alles gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, al die sondes wat Jerobeam gedoen het en alles wat hy die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien.
Omri sterf
27Al die ander dinge wat Omri gedoen het, ook die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 28Omri het gesterf, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Agab het koning geword ná hom.
Agab, koning van Israel
29Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Agab was 22 jaar lank in Samaria koning van Israel. 30Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom. 31Hy het die sondes gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, en hy het ook getrou met Isebel, dogter van Etbaäl, koning van die Sidoniërs, en hy het vir Baäl gedien en voor hom gebuig. 32Agab het vir Baäl 'n altaar gebou by die tempel wat hy in Samaria vir Baäl gebou het. 33Hy het ook 'n gewyde paal ingeplant. Hy het meer sondes gedoen as al die konings van Israel vóór hom, sondes wat die Here, die God van Israel, kwaad gemaak het. 34In Agab se tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo weer gebou. Toe hy die fondamente van die stad bou, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die deure in die poorte insit, het sy jongste seun Segub gesterf. Dit het gebeur soos die Here voorheen vir Josua seun van Nun gesê het om vir die mense te sê.

Currently Selected:

1 Konings 16: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 1 Konings 16