YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 23

23
Joas word koning
(Kyk ook 2 Kon 11:4-20)
1Maar in die sewende jaar het Jojada besluit om iets te doen. Hy het 'n ooreenkoms gemaak met die hoofde van die offisiere. Die hoofde was: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja, en Elisafat seun van Sikri. 2Hulle het toe rondgegaan in die land Juda en hulle het die Leviete en die familiehoofde van al die stede van Juda bymekaargeroep. Toe het hulle na Jerusalem gekom. 3Daar het die hele volksvergadering by die tempel 'n ooreenkoms gemaak met die koning. Jojada het vir hulle gesê: “Hier is die prins, hy moet koning word, die Here het dit belowe vir die nageslag van Dawid. 4Luister wat julle moet doen: Een derde van julle, die priesters en Leviete wat op die Sabbatdag inkom om te werk, moet wagte wees by die poorte. 5Een derde van julle moet by die paleis wees en een derde moet by die Fondament-poort wees. Al die ander mense moet op die oop stukke grond by die tempel wees. 6Julle moet niemand by die tempel laat kom nie, net die priesters en die Leviete wat moet werk, mag daar kom. Hulle mag inkom, want hulle is gewy. Al die ander mense moet gehoorsaam wees aan wat die Here gesê het. 7Die Leviete moet rondom die koning staan, elkeen moet sy wapen in sy hand hou. Hulle moet almal doodmaak wat by die tempel wil kom, en hulle moet by die koning bly oral waar hy gaan.”
8Die Leviete en die priesters het alles gedoen wat die priester Jojada gesê het. Elkeen het sy manne geneem wat op die Sabbatdag moes kom werk, saam met die manne wat klaar gewerk het, want die priester Jojada het nie die werkgroepe laat teruggaan na hulle huise nie. 9Die priester Jojada het vir die hoof-offisiere die spiese en die skilde gegee wat aan Dawid behoort het en wat nog in die tempel was. 10Hy het al die manne laat wagstaan om die koning, elkeen het sy wapen in sy hand gehad. Hulle het rondom die koning gestaan, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel. Hulle het naby die altaar en die tempel gestaan. 11Toe het Jojada die prins na buite gebring, en hulle het 'n kroon op sy kop gesit. Hulle het 'n brief vir hom gegee. In die brief was geskryf dat hulle hom gekies en aangestel het om koning te wees. Daar was ook geskryf wat hy moes doen. Jojada en die ander priesters het vir Joas gesalf en hulle het gesê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”
12Atalia het gehoor hoe skree die mense terwyl hulle nader hardloop en die koning prys, en sy het na die tempel gekom waar die mense was. 13Toe sy daar kom, sien sy dat die koning by die pilaar naby die ingang staan. Die leiers en die mense wat die trompette geblaas het, was by die koning. Al die mense van die land was bly en hulle het die trompette geblaas. Die mense wat moes sing, het op hulle musiek-instrumente gespeel en hulle het die mense gelei om die Here te prys. Atalia het haar klere geskeur en geskree: “Julle het my verraai, julle het my verraai!”
14Die priester Jojada het die hoof-offisiere, die offisiere van die leër, vorentoe laat kom en hy het vir hulle gesê: “Vat haar weg van die mense en maak almal dood wat saam met haar gaan.”
Die priester het gesê: “Julle moet haar doodmaak, maar nie hier by die tempel nie.”
15Hulle het haar gevang en haar na die ingang van die Perde-poort by die paleis gebring, en daar het hulle haar doodgemaak.
16Jojada het 'n ooreenkoms gemaak tussen homself en die volk en die koning. Hulle het belowe dat hulle 'n volk van die Here sal wees. 17Daarna het al die mense na die tempel van Baäl gegaan en hulle het dit afgebreek. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en hulle het vir Mattan, die priester van Baäl, doodgemaak by die altare. 18Jojada het vir die priesters van die Levi-stam gesê hulle moet kyk dat alles reg gaan in die tempel. Dawid het die priesters gekies en aangestel by die tempel, die priesters moes vir die Here brand-offers bring. So is dit geskryf in die Wette van Moses. Hulle moes dit doen terwyl hulle bly is en sing, soos Dawid gesê het. 19Jojada het wagte gekies en aangestel by die poorte van die tempel, sodat niemand kan inkom wat onrein is nie. 20Hy het die hoof-offisiere en die leiers en die regeerders van die volk en al die belangrike mense van die land saamgeneem. Hulle het die koning uit die tempel gebring en hulle het deur die boonste poort na die paleis gegaan. Hulle het die koning op die troon van die koning laat sit. 21Al die belangrike mense van die land was bly, daar was vrede en die mense in die stad was rustig, want Atalia was dood.

Currently Selected:

2 Kronieke 23: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 2 Kronieke 23