2 Kronieke 32
32
Die koning van Assirië kom in die land Juda
(Kyk ook 2 Kon 18:13 – 19:37; Jes 36:2-22)
1Nadat koning Hiskia dit alles gedoen het en gewys het dat hy wil doen wat die Here wil hê, het koning Sanherib van Assirië gekom. Sanherib het in die land Juda gekom en hy het sy leër se tente laat opslaan rondom al die stede, want hy wou die stede se mure afbreek om in te kom. 2Toe Hiskia hoor dat Sanherib gekom het en dat hy oorlog wil maak teen Jerusalem, 3het Hiskia planne gemaak saam met sy amptenare en sy ander offisiere. Hy wou die water van die fonteine buite die stad toemaak, en sy mense het hom gehelp. 4'n Groot klomp mense het bymekaargekom en hulle het al die fonteine toegemaak en ook die waterstroom wat deur die vallei in die land vloei. Hulle het gedink: Wanneer die konings van Assirië hier kom, moet hulle nie water hier kry nie. 5Hiskia het vinnig gewerk en hy het die hele muur wat koning Joas van Israel laat afbreek het, weer gebou en hy het torings bo-op die muur gebou en hy het nog 'n muur buite daardie muur gebou. Hy het ook die terras van die Dawidstad sterker laat maak en hy het baie spiese en skilde laat maak. 6Hy het offisiere gekies en aangestel om sy manne te lei en hy het hulle laat bymekaarkom by hom op die oop stuk grond by die poort van die stad. Hy het met hulle gepraat en gesê: 7“Julle moet sterk en dapper wees. Julle moenie bang wees en skrik vir die koning van Assirië en vir die klomp soldate by hom nie, want daar is meer by ons as by hom. 8Hy het net mense om hom te help, maar ons God die Here is by ons. Ons God sal ons help en Hy sal ons oorloë vir ons veg.”
Die manne het weer sterk en dapper gevoel nadat koning Hiskia van Juda met hulle gepraat het.
9Later het koning Sanherib van Assirië boodskappers gestuur na koning Hiskia en na al die mense van Juda wat in Jerusalem was. Sanherib en sy hele leër was by die stad Lakis. Die boodskappers het kom sê: 10“Koning Sanherib van Assirië sê: Wie dink julle sal vir julle help? Julle bly sit in Jerusalem agter die mure, maar 11Hiskia bedrieg julle. Hy sê: ‘Ons God die Here sal ons red van die koning van Assirië,’ maar dit is nie waar nie. Hiskia wil julle laat sterf van honger en dors. 12Dit was hierdie Hiskia wat die offer-plekke en die altare van die Here laat wegvat het en hy het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê: ‘Julle mag die Here net by hierdie een altaar dien en julle moet op hierdie altaar offer.’ 13Julle weet wat ek en die konings wat vóór my regeer het, gedoen het met die mense van ander lande. Die gode van daardie lande kon nie die mense red van my nie. 14Die konings vóór my het volke heeltemal verwoes, en hulle gode kon hulle nie red nie. Julle God kan julle ook nie red van my nie. 15Daarom, julle moenie dat Hiskia julle so bedrieg nie. Julle moenie vir hom glo nie, want daar is nie een god van enige volk en land wat sy mense kon red van my en van die konings vóór my nie. Julle God sal julle ook nie kan red van my nie.”
16Die boodskappers van Sanherib het nog meer dinge gesê teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia. 17Sanherib het ook briewe geskryf en hy het die Here, die God van Israel, in die briewe beledig, hy het teen die Here gepraat. Hy het geskryf: “Die gode van ander volke kon nie hulle mense red van my nie, en so sal die God van Hiskia ook nie sy mense kan red van my nie.”
18Die boodskappers van Sanherib het hard geskree vir die mense van Jerusalem wat op die mure was. Hulle het in die Judeërs se taal geskree. Die boodskappers wou die mense bangmaak en laat skrik sodat die Assiriërs die stad kan oorwin. 19Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat soos hulle gepraat het oor die gode van die ander volke op die aarde. Maar mense het daardie gode gemaak.
20Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het gebid. Hulle het na die hemel gekyk en gevra dat die Here hulle moet help. 21En die Here het toe 'n engel gestuur wat elke soldaat en offisier en leier in die kamp van die koning van Assirië laat sterf het. Sanherib kon nie doen wat hy wou doen nie. Hy het teruggegaan na sy land, en toe hy 'n eendag in die tempel van sy god ingaan, het een van sy eie seuns hom doodgesteek met 'n swaard. 22So het die Here vir Hiskia en die mense van Jerusalem gered van koning Sanherib van Assirië en van almal by hom. Die Here het sy mense beskerm teen die vyande rondom hulle.
23Baie mense het vir die Here presente gebring na Jerusalem, en hulle het vir koning Hiskia kosbare dinge gebring. Al die volke het van toe af geweet dat hy 'n belangrike koning is.
Hiskia word hoogmoedig, maar hy verneder homself
(Kyk ook 2 Kon 20:1-11)
24In daardie tyd het Hiskia baie siek geword, hy het amper gesterf. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat. Die Here het 'n wonderwerk met Hiskia laat gebeur. 25Die Here was goed vir Hiskia, maar Hiskia het nie gedoen wat hy moes doen nie, hy was hoogmoedig. Daarom het die Here kwaad geword vir Hiskia en vir die mense van Juda en Jerusalem. 26Toe het Hiskia homself verneder en hy het opgehou om hoogmoedig te wees, hy en die mense van Jerusalem. Die Here het hulle nie gestraf terwyl Hiskia gelewe het nie, Hy het hulle later gestraf.
Hiskia word baie ryk
27Hiskia het baie ryk geword. Almal het hom gerespekteer. Hy het silwer en goud bymekaargemaak, en ook edelstene, speserye, skilde en alles wat hy wou hê. 28Hy het stoorkamers laat bou vir die koring en wyn en olyf-olie wat sy mense vir hom gebring het. Hy het ook blyplekke laat bou vir al sy diere, en skaapkrale vir die skape en bokke. 29Hy het stede laat bou en hy het groot troppe skape en bokke en beeste gehad. God het hom baie ryk laat word. 30Dit was hý, hierdie Hiskia, wat die water van die Gihon-fontein toegemaak het. Die water het by die bokant uitgekom, en Hiskia het die water reguit na die westekant van die Dawidstad laat vloei.
Hiskia het geslaag met alles wat hy gedoen het. 31Die amptenare van Babel het boodskappers na Hiskia toe gestuur, hulle moes vir hom kom vra oor die wonderwerk in die land. God het toe vir Hiskia alleen gelos om hom te toets en om uit te vind wat hy dink.
Hiskia sterf
(Kyk ook 2 Kon 20:20-21)
32Die ander dinge wat met Hiskia gebeur het en hoe hy aangehou het om in die Here te glo, is geskryf in Die Dinge wat die Here vir die Profeet Jesaja seun van Amos gewys het. Dit is in die Boek van die Konings van Juda en Israel. 33Hiskia het gesterf, en hulle het hom begrawe by die grafte van die konings, waar 'n mens opgaan na die grafte van die nageslag van Dawid. Al die mense van Juda en Jerusalem het kom wys dat hulle hom gerespekteer het. Sy seun Manasse het koning geword ná hom.
Currently Selected:
2 Kronieke 32: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.