2 Kronieke 36
36
Joahas
(Kyk ook 2 Kon 23:30-34)
1Die mense van die land het vir Joahas seun van Josia geneem en hulle het hom koning gemaak in Jerusalem ná sy pa. 2Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was drie maande lank koning in Jerusalem. 3Maar toe het die koning van Egipte vir Joahas gevang en hy het 'n ander koning gekies in Joahas se plek. Hy het gesê die mense van die land moet boete betaal. Hulle moes 100 talente silwer en een talent goud betaal. 4Die koning van Egipte het Joahas se broer Eljakim koning gemaak van Juda en van Jerusalem en hy het Eljakim se naam verander, die koning het vir hom die naam Jojakim gegee. Neko het Jojakim se broer Joahas na Egipte geneem.
Jojakim
(Kyk ook 2 Kon 23:35 – 24:7)
5Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. 6Koning Nebukadnesar van Babel het gekom en hy het vir Jojakim aangeval en hom gevang. Hy het vir Jojakim vasgemaak met kettings en na Babel geneem. 7Nebukadnesar het ook party van die goed wat in die tempel was, na Babel geneem en hy het dit daar in sy paleis gesit. 8Die ander dinge wat Jojakim gedoen het, die dinge wat hy gedoen het wat die Here gehaat het, en die dinge wat met hom gebeur het, dit is geskryf in die Boek van die Konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het koning geword ná hom.
Jojagin
(Kyk ook 2 Kon 24:7-12)
9Jojagin was ag jaar oud toe hy koning geword het, en hy was drie maande en tien dae lank koning in Jerusalem. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. 10Toe dit lente was, het koning Nebukadnesar gesê hulle moet vir Jojagin gaan haal en na Babel bring. Hulle moet ook die kosbare goed van die tempel saambring. Nebukadnesar het toe vir Sedekia, Jojagin se broer, koning gemaak.
Sedekia
(Kyk ook 2 Kon 24:18 – 25:26; Jer 39:1-10; 52:1-30)
11Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. 12Hy het dinge gedoen waarvan sy God die Here nie hou nie, en hy het homself nie verneder toe die profeet Jeremia vir hom gesê het wat die Here sê nie. 13Hy het belowe dat hy sal doen wat koning Nebukadnesar sê en hy het gesê God moet die getuie wees, maar hy was opstandig teen Nebukadnesar. Sedekia was hardkoppig, hy wou nie sy lewe verander en terugkom na die Here, die God van Israel, nie. 14Die leiers van die priesters en die volk het meer en meer ontrou geword aan die Here, hulle het gedoen soos die ander volke, hulle het dinge gedoen wat die Here haat. Hulle het die tempel in Jerusalem ontwy, die tempel wat die Here aan Homself gewy het. 15Die Here, die God van hulle voorvaders, het aangehou om sy boodskappers na hulle toe te stuur, want Hy wou graag genadig wees vir sy volk en sy woonplek. 16Maar hulle het gelag vir die boodskappers van God. Hulle het gedink God se boodskappe is nie belangrik nie, hulle het sy profete gespot. Die Here het later so kwaad geword vir sy volk dat Hy hulle nie weer wou red nie. 17Die Here het die koning van die Galdeërs gestuur om die mense van Juda aan te val. Hy het hulle jongmanne by hulle gewyde tempel doodgemaak. Hy het niemand vry laat wegkom nie, hy het die jongmanne en jongmeisies, die oumense en swak mense en siek mense doodgemaak. Die Here het hulle almal vir Nebukadnesar gegee. 18Nebukadnesar het al die goed in die tempel na Babel geneem, die groot goed en klein goed, en ook alles in die stoorkamers van die tempel en in die stoorkamers van die koning en sy amptenare. 19Hulle het die tempel afgebrand en hulle het die muur van die stad Jerusalem afgebreek. Hulle het die mooi huise afgebrand en hulle het alles verwoes wat kosbaar is. 20Nebukadnesar het die mense wat hy nie doodgemaak het nie, gevang en weggevat na Babel. Hulle was slawe vir hom en vir die konings ná hom totdat die konings van Persië begin het om te regeer. 21So het gebeur wat die Here gesê het toe Hy die profeet Jeremia gestuur het. Die Here het gesê: “Die land sal verwoes bly totdat genoeg Sabbatdae verbygegaan het. Dit sal een lang rustyd van 70 jaar word.”
Koning Kores sê dat die mense van Juda mag teruggaan
(Kyk ook Esra 1:1-4)
22Dit was in die eerste jaar nadat Kores die koning van Persië geword het. Die Here het voorheen vir Jeremia gestuur en gesê wat sal gebeur. Dit het nou gebeur. Die Here het vir Kores laat besluit om 'n boodskap te stuur na al die mense wie se koning hy was. Die boodskap was ook in briewe wat hy gestuur het. Hy het gesê: 23“Koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het vir my al die lande op die aarde gegee en Hy het vir my gesê ek moet 'n tempel laat bou in die stad Jerusalem in die land Juda. Enige iemand van julle wat aan die volk van die Here behoort, mag teruggaan na Jerusalem. Ek bid dat sy God die Here by hom sal wees.”
Currently Selected:
2 Kronieke 36: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.