2 Korintiërs 5
5
1Ons liggame is soos 'n tent waarin 'n mens woon. Ons weet, wanneer God hierdie tent van ons afbreek, die tent wat op die aarde is, dan het ons 'n gebou van God in die hemel. Dit is nie mense wat dit gebou het nie, en dit is vir altyd. 2Terwyl ons in hierdie tent van ons woon, kla en sug ons. Ons verlang om ons hemelse gebou bo-oor ons tent te sit. 3Wanneer ons weggegaan het uit hierdie tent op die aarde, dan wil ons nie niks hê nie. 4Ja, ons wat nog in die aardse tent woon, sug. Ons kry swaar, want ons is bang om weg te gaan uit die aardse tent. Ons wil die hemelse gebou bo-oor die tent sit sodat ons hemelse lewe dadelik sal kom in die plek van ons aardse lewe. 5Dit is God wat ons gereedgemaak het om dadelik te verander. Hy het sy Gees vir ons gegee, en so weet ons dat God vir ons alles sal gee wat Hy vir ons belowe het.
6Maar ons glo en vertrou altyd. Ons weet dat ons nog nie by die Here woon terwyl ons in ons liggame woon nie. 7Ons moet glo terwyl ons hier op die aarde lewe. Ons sien nog nie alles soos dit sal wees nie. 8Maar ons glo en vertrou en ons verlang daarna om nie meer in ons liggame te woon nie, ons verlang om by die Here te woon. 9Daarom probeer ons om só te lewe dat die Here tevrede sal wees met ons terwyl ons in ons liggame woon en ook wanneer ons nie meer in ons liggame woon nie. 10Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry.
Die werk wat alles regmaak tussen God en mense
11Ons weet wat dit is om die Here te dien en om te doen wat Hy sê. Daarom probeer ons om mense te bemoedig sodat hulle ook sal verander en die Here sal dien. God weet alles van my en van die ander persone wat saam met my werk. Hy weet dat ons Hom eerlik dien. Maar ek hoop dat julle ook so dink oor ons. 12Ons probeer om nie weer te sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo nie. Nee, ons wil hê dat julle trots moet wees op ons. Dan het julle iets om vir die mense te sê, die mense wat dink dat dit belangrik is hoe 'n mens van buite lyk, die mense wat dink dat dit nie belangrik is hoe 'n mens in sy hart is nie. 13As ons dinge gedoen het wat mense gewoonlik nie doen nie, as mense miskien gedink het ons is mal, dan moet julle weet dat ons daardie dinge vir God gedoen het. Maar as ons dinge gedoen het wat verstandig is, dan het ons dit vir julle gedoen. 14Ons bring hierdie boodskap oor Christus omdat Christus lief is vir ons. Ons móét hierdie boodskap bring. Almal moes gesterf het, maar een Mens het gesterf. Hy het dit vir almal gedoen, en daarom het hulle almal gesterf. 15Ja, Christus het vir almal gesterf. Daarom moet die mense wat nou 'n nuwe lewe het, nie meer lewe vir hulleself nie. Nee, hulle moet lewe vir Christus, want Christus het vir hulle gesterf, en God het Hom weer laat lewe. Christus het dit gedoen vir die mense wat nou 'n nuwe lewe het.
16Daarom, van nou af dink ons nie meer soos ongelowiges oor mense nie. Ons het miskien voorheen oor Christus gedink soos mense wat ongelowig is, maar nou doen ons dit nie meer nie. 17As iemand aan Christus behoort, dan het God daardie persoon 'n nuwe mens gemaak. Die persoon se ou lewe is verby, ja, hy het 'n nuwe lewe gekry. 18Dit is God wat al hierdie dinge gedoen het. Hy het ons met Hom versoen omdat ons aan Christus behoort. God het vir ons die werk gegee om mense met Hom te versoen. 19Dit beteken dat God die wêreld met Hom versoen het omdat mense aan Christus behoort. Hy het die sonde wat mense gedoen het, nie gestraf nie. En Hy het vir ons gesê ons moet vir mense vertel dat God so vir hulle versoening gedoen het.
20Ons werk nou vir Christus omdat God ons gekies het. God gebruik ons om vir julle te preek. Daarom vra ons vir julle mooi maar ernstig, nee, dit is Christus wat dit vra: Julle moet aanvaar dat God versoening gedoen het vir julle. 21Christus het self nie sonde gedoen nie. Maar God het vir Christus laat voel hoe dit is om swaar te kry oor die sonde wat mense doen. God het dit vir ons gedoen. Want God het ons nou vrygespreek van ons sonde omdat ons aan Christus behoort.
Currently Selected:
2 Korintiërs 5: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.