YouVersion Logo
Search Icon

Daniël 8

8
Die skaap-ram en die bok-ram
1Ek, Daniël, het weer iets gesien. Dit was in die derde jaar nadat Belsassar koning geword het. 2Ek het gedroom ek is in Susan, die stad in die provinsie Elam, die stad wat sterk mure het. Ek het gedroom ek is by die Ulai-rivier. 3Ek het gesien daar staan 'n skaap-ram by die rivier en die skaap-ram het horings. Een horing was langer as die ander horing. Die kort horing het eerste begin groei, en toe het die lang horing begin groei. 4Ek het gesien die skaap-ram stamp met sy horings na die weste en na die noorde en na die suide. Die diere kon nie voor hom bly staan nie en niemand kon hom keer nie. Die skaap-ram het gedoen wat hy wil, en hy het groot en sterk geword.
5Ek het gekyk, en toe kom daar 'n bok-ram uit die weste. Hy het baie vinnig oor al die lande gehardloop, hy het nie aan die grond geraak nie. Tussen sy oë was 'n lang horing. 6Die bok-ram het gekom tot by die ram met die twee horings, die skaap-ram wat ek by die rivier gesien staan het. Die bok-ram het na die skaap-ram toe gehardloop so vinnig soos hy kon. 7Ek het gesien die bok-ram kom by die skaap-ram en hy stamp die skaap-ram en breek sy twee horings. Die skaap-ram kon nie bly staan nie. Die bok-ram het hom op die grond gegooi en op hom getrap. Niemand kon die bok-ram keer nie.
8Die bok-ram het baie sterk geword, maar toe hy baie sterk was, het sy groot horing afgebreek. Vier lang horings het uitgekom op die plek waar die groot horing was, een horing na die ooste toe, een na die suide, een na die weste, en een na die noorde. 9Uit een van hierdie horings het nog 'n horing begin groei. Die horing was eers klein, maar hy het baie groot geword na die suide en na die weste en na die pragtige land toe. 10Die horing het so sterk geword dat hy die soldate van die hemel aangeval het. Die horing het party van die soldate op die grond laat val en hy het op hulle getrap. 11Die horing het gedink hy is belangriker as God, die Hoof van die soldate van die hemel. Die horing het vir die priesters gesê hulle moenie elke dag vir God offers bring nie, en hy het die gewyde woonplek van God verwoes. 12Hy het gesê die priesters moenie die offers bring wat God gevra het nie, hulle moet ander offers bring. Die horing het gedoen wat hy wil.
13Ek, Daniël, het gehoor 'n heilige engel praat, en hy vra vir 'n ander heilige engel: “Hoe lank sal die dinge aanhou gebeur wat Daniël gesien het? Wanneer sal die mense weer elke dag mag offers bring? Wanneer sal hierdie groot en verskriklike sonde ophou? Hoe lank sal hulle nog met die gewyde tempel maak wat hulle wil? Hoe lank sal hulle nog trap op die soldate van die hemel?”
14Die engel het vir my gesê: “Dit sal 2 300 aande en oggende aanhou. Dan sal hulle weer die gewyde tempel begin gebruik.”
15Ek, Daniël, wou weet wat beteken die dinge wat ek sien. Skielik het daar voor my iemand gestaan wat soos 'n man lyk. 16Ek het gehoor iemand praat uit die Ulai-rivier. Hy het gesê: “Gabriël, jy moet vir Daniël sê wat beteken die dinge wat hy sien.”
17Gabriël het gekom tot waar ek staan. Ek het groot geskrik en ek het gaan lê met my gesig teen die grond. Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet weet, die dinge wat jy gesien het, wys wat nog sal gebeur.”
18Ek, Daniël, het met my gesig teen die grond gelê toe Gabriël met my praat. Ek was bewusteloos, maar hy het aan my geraak en hy het my regop laat staan. 19Gabriël het vir my gesê: “Ek sal nou vir jou sê wat sal gebeur wanneer God nie meer kwaad sal wees vir sy mense nie. 20Die skaap-ram met die twee horings wat jy gesien het, is die konings van Medië en Persië. 21En die bok-ram wat baie hare het, is die koning van die Grieke. Die groot horing wat tussen sy oë was, is die eerste koning. 22Die groot horing het afgebreek, en vier horings het begin groei op die plek waar die horing was. Die vier horings is vier konings. Hulle sal Grieke wees, maar hulle sal nie baie sterk wees nie. 23Wanneer hulle nie meer regeer nie en die mense baie sonde gedoen het, dan sal daar 'n koning kom wat baie wreed en geslepe is. 24Hy sal baie sterk wees, maar dit is God wat hom sterk sal maak. Hy sal baie dinge verwoes. Hy sal doen wat hy wil. Hy sal sterk mense verwoes, ook die gewyde volk. 25Hy sal doen wat hy wil omdat hy baie geslepe is. Hy sal hoogmoedig word en hy sal baie mense doodmaak. Niemand sal hom kan keer nie. Hy sal 'n vyand wees van God, die Koning van konings. Maar wanneer dit die regte tyd is, dan sal God hom breek. 26Die dinge wat jy gesien het, sal gebeur, die dinge oor die oggende en die aande. Maar dit sal baie later gebeur. Jy moenie nou daaroor praat nie.”
27Ek, Daniël, het siek geword en ek het lank siek gebly. Ek het opgestaan en weer die koning se werk gedoen, maar ek was baie geskok oor wat ek gesien het. Ek kon dit nie verstaan nie.

Currently Selected:

Daniël 8: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in