YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 39

39
Gog en sy soldate sal in die land Israel sterf
1“En jy, mens, jy moet my boodskap bring teen Gog. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Gog, hoof-regeerder van die volke Mesek en Tubal, Ek is jou vyand. 2Ek sal jou laat omdraai, Ek sal jou lei en Ek sal jou laat kom van ver uit die noorde, Ek sal jou op die berge van Israel bring. 3Dan sal Ek jou boog uit jou linker-hand slaan en Ek sal jou pyle uit jou regter-hand laat val. 4Jy sal sterf op die berge van Israel, jy en al jou soldate en die manne van ander volke wat saam met jou is. Ek sal jou vir die roofvoëls en die wilde diere gee om op te vreet. 5Jy sal in die veld val, want Ek het dit gesê.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
6“Ek sal die land Magog en die lande by die see aan die brand steek. Daardie mense dink hulle is veilig, maar hulle sal weet dat Ek die Here is. 7Ek sal vir my volk Israel wys dat Ek die heilige God is. Ek sal my heilige Naam nie weer laat ontwy nie. Die ander volke sal weet dat Ek die Here is, die Heilige God van Israel. 8Luister, dit kom, dit sal gebeur, dit is die dag waarvan Ek gepraat het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
9“Die mense wat in die stede van Israel woon, sal uitgaan. Hulle sal vuurmaak en die wapens verbrand: die skilde, die pyl en boë, die stokke en die spiese. Hulle sal sewe jaar lank vuurmaak met al die wapens. 10Hulle sal nie hout in die veld gaan haal of bome afkap in die bos nie, want hulle sal vuurmaak met die wapens. Hulle sal die goed terugvat wat die vyande voorheen gevat het, hulle sal alles terugvat wat die vyande wou wegvat.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
11“Daardie dag sal Ek vir Gog 'n plek in die land Israel gee. Sy graf sal daar wees. Dit sal in die vallei oos van die Dooie See wees. Die mense wat deur die land wil gaan, kom daar verby. Maar wanneer die graf daar is, dan sal die mense nie meer daar kan verbygaan nie. Hulle sal die plek noem ‘Die vallei van Gog se soldate.’ 12Die volk Israel sal sewe maande lank die dooie mense begrawe. Hulle sal dit doen om die land te reinig. 13Al die mense van die land sal die dooie mense begrawe, en wanneer Ek wys dat Ek die Koning is, dan sal almal die mense van hierdie land respekteer.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
14“Die mense van die land sal manne kies en aanstel om weer en weer deur die land te gaan en die dooie mense te begrawe, die mense wat nog nie begrawe is nie. Dan sal die land weer rein word. Ná sewe maande sal hulle weer dooie mense soek in die land, 15hulle sal deur die land gaan en wanneer hulle 'n been van 'n dooie mens sien, sal hulle 'n paar klippe daar opmekaar sit. Die manne wat die bene moet begrawe, sal dit sien en hulle sal dit gaan begrawe in die vallei van Gog se soldate. 16Daar sal later ook 'n stad wees wat daardie naam het. So sal die land weer rein word.”
Ek sal wys dat Ek lief is vir my heilige Naam
17“En jy, mens, die Here, Hy wat Here is, sê vir jou: Jy moet vir die voëls, vir alles wat vlieg, en vir al die wilde diere sê: Julle moet bymekaarkom. Julle moet van al die kante kom en julle moet rondom my fees-ete kom staan. Ek het vir julle die ete gereedgemaak, 'n groot ete op die berge van Israel. Julle moet vleis kom eet en bloed kom drink. 18Julle sal die vleis van belangrike mense eet en julle sal die bloed drink van mense wat regeer op die aarde. Hulle is almal soos die skaap-ramme en die lammers en die bok-ramme en die bulle wat vet geword het in die land Basan. 19Julle sal vet eet, meer as genoeg, en julle sal bloed drink totdat julle dronk is by die fees-ete wat Ek vir julle sal gereedmaak. 20Julle sal meer as genoeg eet by die ete wat Ek gee. Julle sal die perde en die manne van die oorlogkarre eet, ook die soldate en almal wat oorlog gemaak het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
21“Ek sal vir die volke wys dat Ek die Koning is. Al die volke sal sien dat Ek die vyande gestraf het, hulle sal sien dat Ek my hand op hulle gesit het. 22En die volk Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is, van daardie dag af, vir altyd. 23Die ander volke sal weet dat die volk Israel gevangenes in ander lande geword het omdat hulle verkeerd gedoen het, omdat hulle ontrou was aan My. Daarom het Ek my gesig weggedraai van hulle en Ek het hulle vir hulle vyande gegee, sodat hulle almal in oorlog gesterf het. 24Ek het hulle gestraf omdat hulle onrein en opstandig was, Ek het my gesig weggedraai van hulle.”
25Die Here, Hy wat Here is, sê: “Maar nou sal Ek dit weer goed laat gaan met die nageslag van Jakob, Ek sal weer goed wees vir die hele volk Israel, Ek sal wys dat Ek lief is vir my heilige Naam. 26Hulle sal in hulle land woon en veilig wees, hulle sal vir niemand bang wees nie, maar hulle sal vir altyd skaam wees omdat hulle ontrou was aan My. 27Ek sal hulle terugbring uit die ander volke en Ek sal hulle bymekaarmaak uit die lande van hulle vyande. Ek sal al die volke laat sien dat Ek die heilige God is. 28Dan sal hulle weet dat Ek hulle God die Here is. Ek het hulle gevangenes laat word by die ander volke, maar Ek het hulle weer laat bymekaarkom in hulle eie land. Ek het nie een van hulle in die ander lande laat agterbly nie. 29Ek sal nie weer my gesig wegdraai van die volk Israel nie, Ek het my Gees op hierdie volk laat kom.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Currently Selected:

Esegiël 39: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for Esegiël 39