YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 3

3
Alles wat hulle sê en doen, is téén die Here
1Die Here regeer oor alles.
Die Here sal die belangrike mense wegvat
uit die stad Jerusalem en uit die land Juda,
almal wat vir die mense in die stad en die land sorg.
Die Here sal dit doen.
2Hy sal almal wegvat:
die soldate, die mense wat weet hoe om oorlog te maak,
die regters, die profete en die mense
wat dink hulle weet wat ander mense nie kan weet nie, die leiers,
3die offisiere, die amptenare
wat naby die koning is,
die raadgewers van die koning, die goeie ambagsmanne,
en die towenaars.
4Ek sal vir hulle amptenare gee wat jong seuns is,
seuns wat sal doen wat hulle wil.
5Dan sal die mense met mekaar begin baklei.
Die jongmense sal parmantig wees met die oumense,
en die onbelangrike mense sal parmantig wees
met die belangrike mense.
6'n Man sal sy broer gryp in sy pa se huis en vir hom sê:
“Jy moet ons leier wees, want jy het mooi klere.
Jy moet regeer oor hierdie stad wat nou 'n hoop klippe is.”
7Maar die broer sal sê: “Nee, ek wil nie julle leier wees nie,
ek het nie kos en mooi klere in my huis nie,
julle moet my nie die leier van die mense maak nie.”
8Ja, Jerusalem is nou 'n hoop klippe,
en die land Juda is verwoes,
want alles wat die mense sê en doen, is téén die Here.
Hulle wil nie luister na die Here nie.
9In die poort doen hulle nie reg aan die arm mense nie,
en hulle maak soos die mense van Sodom.
Hulle is nie skaam oor hulle sonde nie.
Dit sal sleg gaan met hulle,
hulle hou aan om sonde te doen totdat die Here hulle straf.
10En vir die mense wat reg doen, moet julle sê:
“Dit sal baie goed gaan met julle,
want julle het goed gedoen.”
11Maar dit sal sleg gaan met die mense wat verkeerd doen, baie sleg,
want hulle hou aan om sonde te doen totdat die Here hulle straf.
Die Here sal die leiers na die poort vat
12Die Here sê: “Kinders en vroue verdruk my volk
en hulle regeer oor my volk.
Die mense wat vir my volk die regte pad moet wys,
laat hulle verdwaal.”
13Die Here is die Regter, Hy wil die volke straf.
14Die Here bring die leiers en die amptenare van sy volk
na die poort
en Hy sê: “Julle het my volk se druiwe gepluk
en die goed gevat van die mense
wat hulleself nie kan help nie.
15Hoekom doen julle slegte dinge
aan my volk?
Hoekom verdruk julle die mense
wat hulleself nie kan help nie?”
Dit is wat die Here sê, die Here wat oor alles regeer.
Die vroue in Jerusalem
16Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
17Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
18Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
19die oor-ringe en die armbande en sluiers,
20die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
21die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
22die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
23die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
24Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees.
25Die mans van Jerusalem, die soldate,
sal in die oorlog sterf.
26Die stad sal wees soos 'n vrou
wat kaal op die grond sit en huil en treur.

Currently Selected:

Jesaja 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jesaja 3