Jeremia 1
1
Die Here het met Jeremia gepraat
1Die dinge wat Jeremia gesê en gedoen het.
Jeremia was 'n seun van Gilkija, een van die priesters in die stad Anatot, in die land Benjamin. 2Die Here het met Jeremia gepraat in die tyd toe Josia seun van Amon koning was in Juda. Dit was in die dertiende jaar nadat Josia koning geword het. 3Die Here het ook met Jeremia gepraat in die tyd toe Josia se seun Jojakim koning was in Juda, en die Here het met Jeremia gepraat tot die einde van die elfde jaar nadat Josia se seun Sedekia koning geword het in Juda. In die vyfde maand van daardie jaar het vyande die mense van Jerusalem oorwin en weggevat na 'n ander land.
'n Profeet vir die volke
4Die Here het vir my gesê:
5“Ek het jou gekies voordat Ek jou gemaak het. Ek het jou gewy aan My voordat jy gebore is, Ek het jou aangestel om 'n profeet vir die volke te wees.”
6Maar ek het gesê: “Ag, Here, my Here, ek kan nog nie goed praat nie, want ek is 'n kind.”
7Toe sê die Here vir my:
“Jy moenie sê jy is 'n kind nie,
want Ek stuur jou na mense toe,
en jy moet na hulle almal toe gaan
en jy moet alles sê wat Ek vir jou sê.
8Jy moenie bang wees vir die mense nie,
want Ek sal by jou wees om jou te red.”
Dit is wat die Here gesê het. 9Toe het Hy sy hand uitgesteek en aan my mond geraak en vir my gesê: “Kyk, Ek sê vir jou wat jy moet sê. 10Jy moet dit weet, Ek kies jou vandag en Ek sê vir jou wat om te doen met volke en lande: Jy moet uitruk en afbreek, jy moet doodmaak en verwoes, jy moet bou en plant.”
Jeremia sien 'n amandeltak
11Die Here het vir my gevra: “Jeremia, wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien 'n tak van 'n wakkerboom.”
12Toe sê die Here vir my: “Jy het reg gesien, want Ek bly wakker om te doen wat Ek gesê het.”
Jeremia sien in die noorde 'n pot wat oorkook
13Die Here het 'n tweede maal met my gepraat en gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien in die noorde 'n pot wat kook, dit kook oor hiernatoe.”
14Toe sê die Here vir my: “Ek sal uit die noorde iets laat gebeur. Dit sal almal laat swaarkry wat in hierdie land woon. 15Ja, Ek roep nou al die konings van die lande in die noorde. Hulle sal kom, en elkeen sal sy troon neersit voor die poorte van Jerusalem, Jerusalem met sy sterk mure. Hulle sal begin om die mense van Jerusalem te oordeel en te straf, en ook die mense van die stede van Juda. 16So sal Ek die mense in die land oordeel en straf oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hulle het opgehou om My te dien. Hulle het wierook-offers gebring vir ander gode en hulle het beelde aanbid wat hulle self gemaak het.”
Die Here maak Jeremia sterk
17“Jeremia, jy moet nou begin, jy moet gereedmaak en vir die mense alles sê wat Ek vir jou sê. Jy moenie vir hulle skrik nie, want dan sal Ek jou baie meer laat skrik vir hulle. 18Wat Ek sal doen, is dit: Ek maak jou vandag sterk, so sterk soos 'n stad wat sterk mure het, soos 'n ysterpilaar en 'n muur van brons. Jy sal sterk wees teen die hele land, teen die konings, teen die amptenare en priesters van Juda, en teen al die belangrike mense in die land. 19Hulle sal met jou baklei, maar hulle sal jou nie wen nie, want Ek is by jou om jou te red.”
Dit is wat die Here gesê het.
Currently Selected:
Jeremia 1: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.