YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 44

44
Al die Judeërs in die land Egipte sal sterf
1Die Here het vir Jeremia gestuur om te praat met al die Judeërs wat gewoon het in die stede Migdol en Tagpanges en Nof, en in die land Patros. 2Jeremia moes vir hulle sê: “Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle het self gesien wat Ek alles laat gebeur het met Jerusalem en met die stede van Juda. Daardie stede is nou net hope klippe, en niemand woon daar nie. 3Ek het dit gedoen omdat die mense sonde gedoen het. Hulle het My geterg, hulle het wierook-offers gebring en hulle het ander gode gedien wat hulle voorheen nie geken het nie. Julle en julle voorvaders het dit gedoen. 4Ek het aangehou om al my dienaars, die profete, na julle toe te stuur en Ek het vir julle gesê: Asseblief, julle moenie al hierdie slegte dinge doen nie, Ek haat dit. 5Maar julle was nie gehoorsaam nie, julle het nie geluister nie en julle het nie opgehou om die slegte dinge te doen nie. Julle het aangehou om vir ander gode wierook-offers te bring. 6Ek het baie kwaad geword en Ek het die mense gestraf in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem. Die stede het hope klippe geword, niemand woon daar nie. Dit is vandag nog so. 7En nou sê die Here, die God wat oor alles regeer, die God van Israel: Hoekom doen julle hierdie ding wat baie sleg sal wees vir julleself? Julle sal al die mans en vroue en kinders van Juda laat sterf, en daar sal niemand oorbly nie. 8Julle maak My kwaad wanneer julle dit doen. Julle wil in die land Egipte gaan woon en julle wil daar vreemdelinge wees. Julle wil daar vir ander gode wierook-offers bring. Julle sal sterf. Wanneer mense ander mense wil vervloek en spot, dan sal hulle júlle naam gebruik. 9Het julle die slegte dinge vergeet wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vroue gedoen het in die land Juda en op die strate van Jerusalem? Julle en julle vroue het dit ook gedoen. 10Julle is tot vandag toe nie jammer daaroor nie, julle was nie bang nie. Julle het nie gedoen wat Ek vir julle voorvaders en vir julle gesê het nie. 11Daarom sê Ek, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel: Ek besluit nou dat Ek julle sal straf en dat Ek die hele Juda sal laat sterf. 12Die Judeërs wat oorgebly het, sal almal sterf in Egipte, almal wat besluit het om na Egipte te gaan en daar vreemdelinge te wees. Vyande sal hulle doodmaak en hulle sal sterf van honger. Vyande sal almal doodmaak, onbelangrike en belangrike mense, en hulle sal sterf van honger. Mense sal hulle name gebruik om ander mense te vervloek en bang te maak en te beledig en te spot. 13Ek sal die Judeërs wat in Egipte woon, straf soos Ek die mense van Jerusalem gestraf het. Hulle sal sterf in oorlog en van honger en van pes. 14Nie een van hierdie Judeërs wat oorgebly het en wat in Egipte vreemdelinge wil wees, sal aanhou lewe nie. Hulle sal later wil teruggaan na die land Juda om daar te woon, maar hulle sal nie kan terugkom nie. Daar sal min van hulle oorbly wat lewe.”
15Daar was mans wat geweet het dat hulle vroue wierook-offers bring vir ander gode. Hulle en al die vroue wat in die groot volksvergadering gestaan het, almal wat in Egipte en die land Patros gewoon het, het vir Jeremia gesê: 16“Jy sê die Here het jou gestuur om hierdie dinge vir ons te sê, maar ons sal nie luister na jou nie. 17Ja, ons sal aanhou om te doen wat ons gesê het. Ons sal vir die koningin van die hemel offers bring en ons sal vir haar drank-offers uitgooi soos ons en ons voorvaders en ons konings en ons amptenare altyd gedoen het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem. Daardie tyd het ons genoeg gehad om te eet, en dit het goed gegaan met ons, nie sleg nie. 18Maar toe het ons opgehou om offers te bring vir die koningin van die hemel en ons het opgehou om vir haar drank-offers uit te gooi. Van toe af het ons min kos gehad, en toe het ons begin sterf in oorlog en van honger.”
19Die vroue het gesê: “Ons mans het geweet ons bring offers vir die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit. Hulle het geweet ons maak offer-koekies wat lyk soos die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit.”
20Jeremia het gepraat met al die mense wat dit vir hom gesê het, met die mans en met die vroue. Hy het vir hulle gesê: 21“Die Here het gesien en Hy was baie hartseer oor die offers wat julle gebring het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle konings en julle amptenare en al die mense van die land. 22Die Here het ongeduldig geword omdat julle hierdie slegte dinge doen, dinge wat Hy haat, en daarom het julle land 'n hoop klippe geword waar niemand woon nie. Dit is iets wat mense noem wanneer hulle ander mense wil bangmaak of vervloek. 23Julle het sonde gedoen teen die Here toe julle daardie offers gebring het. Julle het nie gedoen wat Hy vir julle in sy wette gesê het nie. Daarom gaan dit nou so sleg met julle.”
24Jeremia het vir al die Judeërs gesê, ook vir die vroue: “Judeërs, julle almal wat in die land Egipte is, julle moet hoor wat die Here sê: 25Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Wat julle monde sê, dit doen julle hande. Julle sê julle sal doen wat julle belowe het, en julle sal vir die koningin van die hemel offers bring en drank-offers uitgooi, dit is seker. Nou moet julle doen wat julle belowe het. 26Maar julle moet hoor wat sê die Here vir al die Judeërs wat in die land Egipte woon. Die Here sê: So seker soos Ek lewe, niemand van die Judeërs in die hele land Egipte sal weer my groot Naam kan noem wanneer hy iets wil belowe nie. 27Ek is nou gereed om hulle te straf, nie om goed te doen aan hulle nie. Elke Judeër in die land Egipte sal sterf in oorlog of van honger, almal sal sterf. 28Die Judeërs wat nie in die oorlog sterf nie en wat terugkom na die land Juda, sal min wees. Almal wat oorgebly het en wat na Egipte gekom het om hier vreemdelinge te wees, sal dan weet wie het die waarheid gepraat, Ek of hulle.
“Die Here sê: 29Ek sal julle straf op hierdie plek, sodat julle kan weet dat Ek met julle sal doen wat Ek sê, dit is seker. Ek gee vir julle hierdie teken: 30Ek sal nie die farao Gofra, die koning van Egipte, help nie. Hy sal die oorlog verloor teen sy vyande wat hom wil doodmaak, soos Ek ook nie vir koning Sedekia van Juda gehelp het nie, hy het ook die oorlog verloor teen koning Nebukadnesar van Babel, sy vyand wat hom wou doodmaak.”

Currently Selected:

Jeremia 44: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jeremia 44