YouVersion Logo
Search Icon

Job 32

32
Elihu praat
1Die drie manne het opgehou om met Job te praat, want hy het aangehou sê dat hy onskuldig is. 2Maar toe het Elihu kwaad geword vir Job. Elihu was die seun van Barakel. Barakel was van die Ram-familie, van die nageslag van Bus. Elihu het kwaad geword omdat Job gesê het hý is reg en God is verkeerd. 3Elihu was ook kwaad vir Job se drie vriende omdat hulle nie geweet het wat om vir Job te antwoord nie. Hulle het net gesê dat Job verkeerd gedoen het. 4Elihu wou nie dadelik met Job praat nie, want die drie vriende was ouer as hy. 5Maar toe hy sien dat die drie vriende nie vir Job kan antwoord nie, het hy kwaad geword. 6Elihu seun van Barakel, van die nageslag van Bus, het begin praat en hy het gesê:
“Ek is jonk, en julle is oud,
daarom het ek gewag, ek was bang
om vir julle te sê wat ek weet.
7Ek het gedink ouer mense moet eerste praat,
want hulle weet wat wysheid is.
8Maar nee, dit is die gees in 'n mens,
die gees wat die Almagtige gee,
wat 'n mens verstandig maak.
9'n Mens kry wysheid nie net
omdat jy oud geword het nie,
'n mens weet wat reg is
nie net omdat jy 'n oumens is nie.
10Daarom sê ek: Luister na my,
ek wil ook sê wat ek weet.
11Onthou, ek het gesê ek het gewag
totdat julle eerste gepraat het,
ek het geluister na die slim dinge
wat julle gesê het
terwyl julle gesoek het
na die regte woorde.
12Ek het goed geluister
na wat julle sê,
maar niemand kon wys
dat Job verkeerd is nie,
nie een van julle kon hom
reg antwoord nie.
13Oppas, julle moenie sê: ‘Ons
het wysheid gekry’ nie.
'n Méns kan nie vir Job antwoord nie,
net God kan dit doen.
14Job het nie met mý gepraat nie,
en ek sal hom nie antwoord
soos julle dit probeer doen het nie.
15Job, jou vriende weet nie meer
wat om te sê nie, hulle is deurmekaar.
16Maar ek sal nie langer wag nie,
want hulle sê niks, hulle staan net daar,
hulle praat nie meer met jou nie.
17Nou wil ek ook iets doen,
ek wil sê wat ek weet.
18Want ek het baie
wat ek wil sê,
ek kan nie stilbly nie.
19Ja, ek voel soos 'n wynsak
wat wil bars, die woorde
waaraan ek dink,
is so baie.
20Ek moet praat,
dan sal ek beter voel,
ek sal sê wat ek wil sê.
21Ek wil nie téén een mens wees
en 'n ander mens kies nie,
ek wil niemand te veel prys nie.
22Ek prys nie graag mense nie,
en wanneer ek dit doen,
dan sal God my dadelik straf,
God wat my gemaak het.

Currently Selected:

Job 32: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in