Klaagliedere 2
2
Jerusalem, wat kan ek sê om jou te troos?
1Hoekom het dit gebeur?
Die Here was kwaad
en Hy het dit donker laat word oor Sion.
Israel was trots op die stad,
maar die Here het die stad
uit die hemel neergegooi
op die aarde.
Hy het nie aan sy tempel gedink
op daardie dag toe Hy kwaad
geword het nie.
2Die Here was nie jammer vir hulle nie,
Hy het al die woonplekke in Jakob verwoes.
Hy het die stede van Juda afgebreek,
die stede wat sterk mure gehad het.
Hy het die koning en sy amptenare
hard laat val en Hy het hulle verneder.
3Hy was baie kwaad,
Hy het almal laat sterf wat sterk was in die volk Israel.
Hy het hulle nie gehelp teen die vyande nie.
Dit was soos 'n vuur wat alles verbrand het.
4Die Here het soos 'n vyand
sy boog se snaar styfgetrek
en Hy het gereedgestaan.
Hy het almal wat mooi was,
met sy sterk arm doodgemaak
in die woonplekke van Sion.
Hy was kwaad,
en dit het gebrand soos vuur.
5Die Here was soos 'n vyand,
Hy het Israel verwoes,
Hy het al die mooi huise verwoes,
Hy het al die sterk mure afgebreek,
Hy het baie mense in Juda
laat huil en rou.
6Hy het sy tempel, sy woonplek,
plat getrap soos mense 'n tuin plat trap.
Hy het die plek verwoes
waar Hy aan sy volk verskyn het.
Hy het mense laat vergeet
dat die mense van Sion feeste
en Sabbatdae gevier het.
Hy was kwaad,
Hy het die koning en die priesters verneder.
7Die Here wou nie meer sy eie altaar hê nie,
en ook nie sy tempel nie.
Hy het die mure van die stad se mooi huise
vir die vyande gegee om af te breek.
Hulle het in die tempel gaan staan en skree
soos mense op 'n feesdag gedoen het.
8Die Here het besluit om die mure van Sion
af te breek.
Hy het die mure gemeet en Hy het
nie opgehou om dit af te breek nie.
Hy het torings en mure laat omval
en Hy het dit saam op die grond laat lê.
9Die poorte van die stad het omgeval,
want die Here het die sluitbalke
van die poorte stukkend gebreek.
Die koning en die amptenare van die stad
is by ander volke.
Daar is nie meer priesters wat vir die mense
kan sê wat die Here wil hê nie.
Die Here wys ook nie meer vir die profete
wat hulle moet sê nie.
10Die leiers van Sion sit op die grond,
hulle praat nie,
hulle het stof op hulle koppe gegooi
en hulle het rouklere aangetrek.
Die jongmeisies van Jerusalem
buig hulle koppe laag,
tot naby die grond.
11Ek is moeg, want ek het baie gehuil,
alles pyn binne-in my.
Dit voel of my lewer op die grond wil val,
want die Here het my volk stukkend gebreek.
Kinders en babas het flou geval
op die oop stukke grond in die stad.
12Hulle vra vir hulle ma's:
“Waar kan ons brood en wyn kry?”
Maar dan val hulle flou soos dooie mense
op die oop stukke grond in die stad,
of hulle sterf terwyl hulle
teen hulle ma's se borste lê.
13Jerusalem, wat kan ek sê
om jou te troos?
Sion, wie kry so swaar soos jy?
Hoe kan ek dit vir jou makliker maak?
Jou swaarkry is so groot soos die see,
wie kan dit beter laat gaan met jou?
14Jou profete het gesê die Here
het vir hulle dinge gewys,
maar hulle het gelieg,
hulle het jou bedrieg.
Hulle het nie oor jou sonde gepraat
sodat jy kon verander
en lewe soos God wil hê
en sodat dit dan met jou beter kon gaan nie.
Hulle het gesê die Here het vir hulle dinge gesê,
maar dit was leuens, hulle het jou bedrieg.
15Almal wat op die pad verbykom,
spot en klap hulle hande oor jou.
Hulle fluit en hulle wys
dat hulle bly is oor wat gebeur het
met Jerusalem.
Hulle vra:
“Is dít die stad wat vir die mense
die mooiste van al die stede was?
Is dít die stad waaroor al die mense
in die wêreld bly was?”
16Al jou vyande spog oor wat hulle
met jou gedoen het,
hulle fluit, hulle byt hard op hulle tande.
Hulle sê:
“Ons het Jerusalem verwoes,
ons het gewag vir hierdie dag,
en die dag het gekom, ons het dit gesien.”
17Die Here het gedoen wat Hy wou doen,
Hy het laat gebeur wat Hy
lank gelede gesê het.
Hy het die stad afgebreek,
Hy was nie jammer nie.
Hy het jou vyande bly gemaak
oor wat met jou gebeur het,
Hy het hulle sterk gemaak.
18Jerusalem, jou mure het geskree
en gevra dat die Here hulle moet help.
Jou trane moet vloei soos 'n rivier,
elke dag en nag.
Jy moenie rus nie, jy moenie ophou huil nie.
19Jy moet opstaan,
jy moet aanhou roep in die nag.
Wanneer elke wagbeurt begin,
dan moet jy vir die Here sê hoe jy voel.
Jy moet jou hande uitsteek na Hom toe
en jy moet bid dat Hy jou kinders moet laat lewe,
jou kinders wat op al die hoeke van die strate
flou word omdat hulle honger is.
20Here, U moet kyk, U moet sien
aan wie U dit gedoen het.
Wil U hê vroue moet hulle eie kinders eet?
Moet die vyande die priesters en die profete
vermoor in die tempel?
21Seuns en ou manne lê saam dood
op die strate.
My jongmeisies en my jongmanne
het gesterf in die oorlog.
U het hulle laat sterf toe U kwaad was,
U het hulle doodgemaak,
U was nie jammer vir hulle nie.
22U het die vyande van al die kante geroep,
U het hulle geroep soos U mense roep
om te kom feesvier.
Toe die dag van die Here kom,
het niemand vry weggekom en weggehardloop nie.
My vyande het almal doodgemaak
wat hier gebore is en wat hier grootgeword het.
Currently Selected:
Klaagliedere 2: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.