YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 7

7
Die leiers van die Israeliete gee presente vir die werk by die tempel-tent
1Toe Moses die tempel-tent klaar opgeslaan het, het hy die tent en al die gereedskap daarby gesalf en gewy, en ook die altaar en die altaar se gereedskap. 2Daarna het die leiers van die Israeliete presente gebring. Die leiers was die familiehoofde wat stamhoofde was, hulle was die hoofde van die Israeliete wie se name in die boek geskryf is. 3Die leiers het hulle presente vir die Here gebring. Dit was ses tentwaens en twaalf beeste, 'n tentwa vir elke twee leiers en 'n bees vir elke leier. Hulle het dit na die tempel-tent gebring, 4en die Here het vir Moses gesê: 5“Jy moet die waens en die beeste neem wat hulle bring, en jy moet dit vir die Leviete gee om te gebruik vir die werk met die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, elke familie moet dit gebruik vir die werk wat hulle moet doen.”
6Moses het die waens en die beeste geneem en hy het dit vir die Leviete gegee. 7Hy het vir die Gerson-familie twee waens en vier beeste gegee vir die werk wat hulle moes doen. 8Hy het vir die Merari-familie vier waens en ag beeste gegee vir die werk wat hulle moes doen. Itamar seun van die priester Aäron moes kyk dat hulle die werk doen. 9Moses het nie vir die Kehat-familie waens en beeste gegee nie, want hulle moes werk met die gewyde dinge, hulle moes dit op hulle skouers dra.
10Nadat Moses die altaar gesalf het, het die leiers van die stamme ook presente gebring. Hulle het die presente na die altaar gebring om die altaar te wy, 11en die Here het vir Moses gesê: “Een van die leiers moet elke dag sy presente bring om die altaar te wy, die leiers moet dit twaalf dae lank doen.”
12-83Elke leier het sy presente op een van die twaalf dae gebring.
Die leiers was: Nagson
seun van Amminadab
van die stam Juda,
Netanel seun van Suar,
leier van die stam Issaskar,
Eliab seun van Gelon,
leier van die stam Sebulon,
Elisur seun van Sedeür,
leier van die stam Ruben,
Selumiël seun van Suri-Saddai,
leier van die stam Simeon,
Eljasaf seun van Reüel,
leier van die stam Gad,
Elisama seun van Ammihud,
leier van die stam Efraim,
Gamliël seun van Pedasur,
leier van die stam Manasse,
Abidan seun van Gidoni,
leier van die stam Benjamin,
Agiëser seun van Ammi-Saddai,
leier van die stam Dan,
Pagiël seun van Okran,
leier van die stam Aser,
en Agira seun van Enan,
leier van die stam Naftali.
Die presente wat elke leier gebring het, was:
'n silwer skottel wat 130 sikkels
geweeg het,
'n silwer bak wat 70 sikkels
geweeg het,
dit was tempel-sikkels,
die skottel en die bak
was altwee vol
van die beste meel,
hulle het dit met
olyf-olie gemeng,
dit was 'n koring-offer,
'n goue bakkie wat tien sikkels
geweeg het
en vol wierook was,
'n bul, 'n skaap-ram en 'n lam
wat een jaar oud was,
dit was die brand-offer,
'n bok-ram,
dit was die sonde-offer,
en twee beeste, vyf skaap-ramme,
vyf bok-ramme en vyf lammers
wat een jaar oud was,
dit was die ete-offer.
Dit was die presente van elke leier.
84Die leiers van die Israeliete het die presente gegee om die altaar te wy nadat Moses die altaar gesalf het. Die presente was almal saam twaalf silwer skottels, twaalf silwer bakke en twaalf goue bakkies. 85Elke skottel het 130 sikkels geweeg en elke silwer bak 70 sikkels. Al die silwergoed saam het 2 400 sikkels geweeg, dit was tempel-sikkels. 86Die twaalf goue bakkies wat vol wierook was, het elkeen 10 sikkels geweeg, dit was tempel-sikkels. Al die goue bakkies saam het 120 sikkels geweeg. 87Die leiers het ook diere gegee, dit was die brand-offer. Die diere was almal saam twaalf bulle, twaalf skaap-ramme en twaalf jaaroud lammers. Hulle het die diere gegee saam met die koring-offers. Daar was ook twaalf bok-ramme, dit was die sonde-offer. 88Die diere wat die leiers vir die ete-offer gegee het, was almal saam 24 bulle, 60 skaap-ramme, 60 bok-ramme en 60 jaaroud lammers. Dit was die offers om die altaar te wy nadat Moses die altaar gesalf het.
Moses het gehoor die Here praat met hom
89Wanneer Moses met die Here wou praat, dan het hy ingegaan in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het en het hy gehoor die Here praat met hom van bokant die deksel wat op die kis was waarin die tien gebooie is. Die Here het met hom gepraat van tussen die twee gerubs.

Currently Selected:

Numeri 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in