YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 9

9
Die Paasfees by Sinai-berg
1Die Here het met Moses gepraat in die Sinai-woestyn, in die eerste maand van die tweede jaar nadat die Israeliete uit die land Egipte gekom het. Die Here het gesê: 2“Die Israeliete moet die Paasfees vier op die regte tyd. 3Julle moet die fees vier op die veertiende dag van hierdie maand, wanneer dit begin donker word. Julle moet die fees vier soos Ek vir julle gesê het en soos Ek besluit het.”
4Moses het vir die Israeliete gesê hulle moet die Paasfees vier, 5en hulle het die fees in die Sinai-woestyn gevier in die eerste maand, op die veertiende dag, toe dit begin donker word. Hulle het dit gedoen soos die Here vir Moses gesê het.
6Maar daar was mans wat onrein was omdat hulle aan 'n lyk geraak het. Hulle kon nie die Paasfees op daardie dag vier nie en hulle het dieselfde dag na Moses en Aäron toe gekom 7en vir Moses gesê: “Ons is onrein omdat ons aan 'n lyk geraak het, maar hoekom kan ons nie op die regte tyd saam met die ander Israeliete vir die Here 'n offer bring nie?”
8Moses het vir hulle gesê: “Bly staan hier, dan sal ek hoor wat sê die Here oor julle.”
9Die Here het vir Moses gesê: 10“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer een van julle of van julle nageslag onrein geword het omdat hy aan 'n lyk geraak het of omdat hy weggegaan het na ver plekke, dan moet hy die Paasfees vir My vier 11in die tweede maand, op die veertiende dag, wanneer dit begin donker word. Hulle moet die paaslam eet saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 12Hulle moet niks daarvan laat oorbly tot die volgende dag nie en hulle moenie die bene van die lam breek nie. Hulle moet die fees vier soos Ek vir hulle gesê het. 13Maar wanneer iemand rein is en hy is nie ver weg van sy huis nie, en hy vier nie die Paasfees nie, dan moet julle hom afsny van my volk. Hy het nie die offer vir My gegee op die regte tyd nie, en hy moet die straf kry vir sy sonde. 14Wanneer 'n vreemdeling by julle woon en hy vier die Paasfees vir My, dan moet Hy dit doen soos Ek gesê het en soos Ek besluit het. Hy moet dit so doen, want die Israeliete en ook die vreemdelinge moet doen wat Ek sê.”
Die wolk oor die tempel-tent
15Toe Moses die tempel-tent opgeslaan het, het 'n wolk die tempel-tent toegemaak, die tent waarin die tien gebooie was. Die wolk was van die aand tot die oggend oor die tempel-tent, dit het gelyk soos vuur. 16Dit was altyd so, die wolk het die tempel-tent toegemaak en in die nag het dit gelyk soos vuur. 17Elke maal wanneer die wolk opgegaan het van die tent, dan het die Israeliete verder gegaan. En wanneer die wolk op een plek gaan staan het, dan het die Israeliete hulle tente daar opgeslaan. 18Die Here het gesê wanneer die Israeliete verder moet gaan en die Here het gesê wanneer hulle die tente moet opslaan. Hulle het in die kamp gebly terwyl die wolk oor die tempel-tent gebly het. 19Wanneer die wolk 'n lang tyd oor die tempel-tent gebly het, dan het die Israeliete die Here daar gedien en hulle het nie verder gegaan nie. 20Wanneer die wolk net 'n paar dae oor die tempel-tent gebly het, dan het die Israeliete in die kamp gebly. Hulle het in die kamp gebly wanneer die Here sê hulle moet bly, en hulle het verder gegaan wanneer die Here sê hulle moet gaan. 21Wanneer die wolk van die aand tot die oggend daar gebly het en dan in die oggend opgegaan het, dan het die Israeliete verder gegaan, dit maak nie saak of dit in die dag of in die nag was nie. Wanneer die wolk opgaan, dan het hulle verder gegaan. 22Wanneer die wolk twee dae lank of 'n maand lank of baie lank oor die tempel-tent gebly het, dan het hulle daar gebly, en wanneer die wolk opgaan, dan het hulle verder gegaan. 23Hulle het in die kamp gebly wanneer die Here sê hulle moet, en hulle het verder gegaan wanneer die Here sê hulle moet gaan. Hulle het die Here gedien soos die Here vir Moses gesê het.

Currently Selected:

Numeri 9: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in