YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 8

8
Dit sal nou goed gaan met die mense wat nou nog lewe
1Die Here wat oor alles regeer, het met Sagaria gepraat. 2Hy het gesê: “Ek is baie lief vir die stad Jerusalem, en Ek is baie kwaad vir die vyande wat Jerusalem verwoes het. 3En nou sê Ek: Ek sal terugkom na Jerusalem en Ek sal weer daar woon. Die mense sal sê Jerusalem is die stad waar die mense doen wat die Here wil hê, en hulle sal sê die berg van die Here wat oor alles regeer, is die gewyde berg.”
4Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daar sal weer ou mans en ou vroue sit op die oop plekke in Jerusalem, en hulle sal almal hulle kieries in hulle hand vashou omdat hulle baie oud geword het. 5En kinders sal oral op die oop plekke in Jerusalem speel.”
6Die Here wat oor alles regeer, sê: “Die mense wat in daardie tyd nog lewe, sal miskien dink dit kan nie gebeur nie. Moet Ek dan ook dink dit kan nie gebeur nie? Nee.”
7Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal my volk red uit die lande waar hulle nou woon, die lande in die ooste en die lande in die weste. 8Ek sal hulle terugbring, en hulle sal in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en net Ek sal hulle God wees. Ek sal sorg dat alles reg is tussen My en hulle.”
9Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moenie nou moedeloos wees nie. Julle het gehoor wat die profete gesê het toe die mense begin het om my tempel te bou. 10Voorheen was daar nie geld om mense of diere te huur om die werk te doen nie, en niemand was veilig in die stad nie, want Ek het vyande gestuur. 11-12Maar Ek sal dit nie nou weer doen nie. Dit sal nou goed gaan met die mense wat nog lewe. Daar sal druiwe wees aan die wingerdstokke en koring op die lande. Die dou uit die lug sal die grond natmaak. Ek sal dit alles gee vir die mense wat nog lewe. 13Mense van Juda en Israel, almal het geweet dat die Here julle vervloek het. Nou sal Ek, die Here, julle red, en almal sal weet die Here seën julle. Julle moenie bang wees nie, julle moenie moedeloos wees nie.”
14Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Toe julle voorvaders My kwaad gemaak het, het Ek besluit om julle te laat swaarkry. Ek het besluit Ek sal nie jammer wees vir julle nie. 15Maar nou besluit Ek dat Ek goed sal wees vir die mense van Jerusalem en vir die mense van Juda. Julle moenie bang wees nie.
16“Julle moet nou ook al hierdie dinge doen: Julle moet die waarheid praat met mekaar. Wanneer julle in die poort moet vertel wat gebeur het, dan moet julle die waarheid praat, en wanneer julle in die poort moet besluit oor die mense wat daar kom, dan moet julle reg besluit.
17“Julle moenie planne maak om dit sleg te laat gaan met ander mense nie. Julle moenie dinge belowe wat julle nie wil doen nie, want dit is iets wat Ek haat,” sê die Here.
Ons het gehoor God is by julle
18Die Here wat oor alles regeer, het met my gepraat. 19Hy het gesê: “Die mense van Juda het gevas in die vierde maand, of in die vyfde maand, of in die sewende maand, of in die tiende maand. Maar nou sal hulle op daardie dae bly wees en feesvier en bymekaarkom. Hulle sal die waarheid praat met mekaar en hulle sal lief wees vir mekaar.”
20Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daar sal nog iets gebeur: Mense sal kom, hulle sal uit baie stede kom. 21Die mense van een stad sal na 'n ander stad gaan en sê: ‘Kom ons gaan bring 'n offer vir die Here, die Here wat oor alles regeer. Kom ons gaan vra wat Hy wil hê ons moet doen. Ek wil ook gaan.’ 22Baie volke, volke wat groot en sterk is, sal na Jerusalem kom om vir My te vra wat Ek wil hê hulle moet doen, en hulle sal vir My 'n offer bring, vir My, die Here wat oor alles regeer.”
23Die Here wat oor alles regeer, sê: “Mense van die baie ander volke sal vashou aan die klere van die mense van Juda. Tien manne sal vashou aan een man se klere en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.’ ”

Currently Selected:

Sagaria 8: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in