YouVersion Logo
Search Icon

1 Konings 15

15
Abia koning van Juda
1 In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam, seun van Nebat, het Abia koning geword oor Juda. 2Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. 3Hy het volhard met al die sondes van sy vader wat dié voor hom gedoen het. Sy hart was nie volkome by die Here sy God, soos die hart van sy voorvader Dawid was nie. 4 Maar ter wille van Dawid het die Here sy God vir Dawid 'n lamp gegee in Jerusalem deur sy nasaat ná hom te vestig en Jerusalem staande te hou. 5Want Dawid het gedoen wat reg is in die oë van die Here en hy het sy lewe lank nie afgewyk van alles wat die Here hom beveel het nie, behalwe in die geval van Uria, die Hetiet.
6 Daar was oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam solank hy geleef het. 7 Die verdere geskiedenis van Abia, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. 8Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword.
Asa koning van Juda
9In die twintigste regeringsjaar van Jerobeam, koning van Israel, het Asa koning van Juda geword. 10Hy het een-en-veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. 11 Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. 12Hy het die manlike tempelprostitute uit die land laat verwyder en weggedoen met al die afgodsbeelde wat sy voorsate gemaak het. 13 Selfs vir Maäga, sy grootmoeder, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap en dit in die Kidrondal verbrand. 14Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die Here solank hy geleef het. 15Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van die Here ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels.
16 Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. 17 Baesa, koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. 18Asa neem toe al die silwer en goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis, en vertrou dit aan sy dienaars toe. Koning Asa stuur dit toe na Ben-Hadad, seun van Tabrimmon, seun van Ges-jon, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: 19“Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u 'n geskenk – silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” 20Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag teen die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Bet-Maäga aangeval, en ook die hele Gennesaret en die hele gebied van Naftali.
21Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en in Tirsa gebly. 22Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda opgeroep – niemand is verskoon nie – en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het koning Asa toe Geba, in Benjamin, en Mispa versterk.
23 Die volle verdere geskiedenis van Asa, al sy magtige dade, alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Op sy oudag het hy egter aan 'n voetkwaal gely. 24Asa het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Josafat het in sy plek koning geword.
Nadab koning van Israel
25Nadab, seun van Jerobeam, het koning geword oor Israel in die tweede regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Hy het vir twee jaar as koning geheers oor Israel. 26 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy vader gevolg en het volhard met sy vader se sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
27 Baesa, seun van Agija, van die huis van Issaskar, het 'n komplot teen hom gesmee. Baesa het hom neergevel by Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort. Nadab en die hele Israel was besig om Gibbeton te beleër. 28Baesa het hom doodgemaak in die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, en in sy plek koning geword. 29Pas nadat hy koning geword het, het hy die hele huis van Jerobeam laat ombring. Hy het vir Jerobeam niemand wat asemhaal, laat oorbly nie, totdat hy Jerobeam uitgeroei het. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het by monde van Agija, die man van Silo, sy dienskneg, 30oor die sondes van Jerobeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy uittartende houding waarmee hy die Here, die God van Israel getart het. 31Die verdere geskiedenis van Nadab, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? 32 Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel.
Baesa koning van Israel
33In die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Baesa, seun van Agija, koning geword oor die hele Israel in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank. 34Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam gevolg en het volhard met Jerobeam se sonde waarmee hy Israel laat sondig het.

Currently Selected:

1 Konings 15: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 1 Konings 15