YouVersion Logo
Search Icon

2 Petrus 2

2
Vals profete en leraars
1Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle 'n skielike ondergang vir hulleself. 2Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. 3Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. 4 Trouens,
as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou;
5en as Hy die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van •geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het;
6en as Hy die stede van Sodom en Gomorra tot as verbrand het, toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel, en van hulle 'n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref;
7 en as Hy die •regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het 8– die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig;
9dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word – 10 veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop, en wat gesag verag.
Hulle is roekelose, arrogante mense. Hulle skram nie daarvan weg om die hemelse wesens te belaster nie; 11terwyl selfs engele, wat daardie wesens tog in sterkte en krag oortref, nie teen hulle 'n klag van laster voor die Here inbring nie.
12Aangesien hierdie mense – soos redelose diere, instinkmatige wesens, voortgebring net om gevang en geslag te word – oor dinge laster waaroor hulle onkundig is, sal hulle deur hulle vernietigende optrede ook vernietig word, 13en as loon vir onreg sal húlle veronreg word. Hulle beskou dit as genotvol om helder oordag te fuif. Terwyl hulle saam met julle feesvier, is hulle skandvlekke, wat hulle verlustig in hulle losbandigheid. 14Hulle oë is vol owerspel, en hulle kry nie genoeg van sonde nie; hulle verlei onstandvastige siele; hulle harte is geoefen in hebsug; hulle is vervloektes! 15Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. 16 Hy is egter tereggewys vir sy oortreding: 'n Donkie, wat stom is, het, deur met die stem van 'n mens te praat, 'n einde gemaak aan die profeet se waansin.
17Hierdie mense is opgedroogde fonteine, miswolke voortgedryf deur 'n stormwind, mense vir wie die diepste duisternis gereed staan. 18Want terwyl hulle aanmatigende onsin verkondig, lok hulle deur onsedelike liggaamlike drange diegene uit wat met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef – 19mense wat aan hulle vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee. 20Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin. 21 Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die •geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. 22Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing:
“'n Hond keer terug na sy eie braaksel,”
en
“'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”

Currently Selected:

2 Petrus 2: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in