2 Samuel 7
7
Verbond met Dawid
1 Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die Here hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, 2 het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” 3Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die Here is met u.”
4Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die Here het tot Natan gekom: 5“Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die Here: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? 6Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. 7Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ” 8Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. 9 Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. 10 Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, 11soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande.
“ ‘ “Die Here maak aan jou bekend dat Hy, die Here, 'n huis vir jou sal oprig. 12Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. 13Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. 14Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. 15Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. 16Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ”
17 Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.
Dawid se gebed
18Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê:
“Wie is ek, Here, my Heer;
en wie is my huis
dat U my tot hier gebring het?
19En asof dit nie genoeg is
in u oë nie, Here, my Heer,
het U ook oor die huis
van u dienskneg gepraat,
tot in die verre toekoms,
en dit as voorskrif vir mense,
Here, my Heer.
20Maar wat kan Dawid verder
vir U sê?
U ken self u dienskneg,
Here, my Heer.
21Ter wille van u belofte
en volgens u wil
het U hierdie hele groot saak
so bewerk dat dit
aan u dienskneg bekend kon word.
22Daarom, U is groot,
Here, my Heer;
ja, daar is niemand soos U nie.
Daar is geen God behalwe U nie,
volgens alles wat ons
met ons eie ore gehoor het.
23 En wie is soos u volk, soos Israel,
die enigste nasie op aarde van wie
dit geld dat God gegaan het
om hulle vir Homself
vry te koop as 'n volk,
en om vir Homself naam
te maak deur aan hulle grootse
en wonderlike dade te doen,
en aan u land,
ter wille van u volk
wat U vir U vrygekoop het
van Egipte, van die nasies
en die gode van Egipte?
24U het u volk Israel vir U as volk
gevestig vir altyd.
U, Here, U het hulle God geword.
25 Here, God, doen dan nou
die woord gestand
wat U gespreek het
oor u dienskneg en sy huis,
vir altyd;
doen wat U gesê het,
26sodat u Naam vir ewig
groot sal wees,
en daar gesê sal word,
‘Die Here, Heerser oor alle magte,
is God oor Israel.’
En wat die huis van u dienskneg
Dawid betref,
mag dit voor U in stand bly,
27want U, Here,
Heerser oor alle magte,
God van Israel,
het aan u dienskneg
dit geopenbaar, en gesê,
‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’
Daarom het u dienskneg die moed
om hierdie gebed tot U te bid.
28En nou, Here, my Heer, U is God,
en u woorde is betroubaar.
U het hierdie goeie woord
oor u dienskneg uitgespreek.
29 Wees dan nou bereid
om die huis van u dienskneg
te seën,
sodat dit vir altyd voor U sal wees.
U, Here, my Heer, het dit immers
self gesê,
en deur u seën sal die huis
van u dienskneg
altyd geseënd wees.”
Currently Selected:
2 Samuel 7: AFR20
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.