Kolossense 2:6-15
Kolossense 2:6-15 AFR20
Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.