YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 22

22
1“ Jy mag nie toekyk hoe jou volksgenoot se bees of kleinvee ronddwaal en jou dan afsydig hou nie. Jy moet hulle beslis na jou volksgenoot terugvat. 2As jou volksgenoot nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy die diere by jou huis hou. Dit moet by jou bly totdat jou volksgenoot dit kom soek en dan moet jy dit vir hom teruggee. 3Jy moet dieselfde doen met sy donkie en dieselfde doen met sy oorkleed. Ja, jy moet so maak met alle verlore goedere van jou volksgenoot – wat ook al hy vermis en wat jy vind. Jy mag jou nie afsydig hou nie. 4Jy mag nie toekyk hoe jou volksgenoot se donkie of bees in die pad lê en jou dan afsydig hou nie. Jy moet beslis saam met hom die dier ophelp.
5“ Mansklere mag nie deur 'n vrou gedra word nie, en 'n man mag nie 'n vrou se oorkleed aantrek nie, want almal wat dit doen, is afstootlik vir die Here jou God.
6“ As jy langs die pad in enige boom of op die grond op 'n voëlnes met kuikens of eiers afkom, terwyl die ma op die kuikens of die eiers sit, mag jy nie die ma saam met die kleintjies vat nie. 7Jy moet die ma beslis vrylaat, maar die kleintjies mag jy vir jou vat. Doen dit sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag leef.
8“ As jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling bo om die dak aanbring sodat jy nie bloedskuld op jou huis laai wanneer iemand daar afval nie.
9“ Jy mag nie twee soorte saad in jou wingerd saai nie; anders word die volle oes heilig – die oes van die saad wat jy gesaai het, sowel as die opbrengs van die wingerd.
10“Jy mag nie ploeg met 'n bees en 'n donkie in dieselfde span nie.
11“Jy mag nie gemengde vesel – wol en linne tegelyk – dra nie.
12“Jy moet vir jou tossels maak aan die vier hoeke van die bedekking waarmee jy jou toemaak.”
Seksuele misdrywe
13“ 'n Man neem dalk 'n vrou, gaan by haar in, kry daarna 'n weersin in haar, 14en beskuldig haar dan vals en gee haar 'n slegte naam deur te sê, ‘Ek het hierdie vrou geneem, maar toe ek met haar omgang gehad het, het ek nie by haar die bewys van maagdelikheid gekry nie.’ 15 Dan moet die vader en moeder van die jong vrou die bewys van haar maagdelikheid vat en dit vir die oudstes van die dorp na die poort bring. 16Die vader van die jong vrou moet dan vir die oudstes sê, ‘My dogter het ek aan hierdie man as vrou gegee, maar hy het 'n weersin in haar gekry. 17En kyk, nou is hy die een wat haar vals beskuldig deur te sê: “Ek het nie by jou dogter die bewys van maagdelikheid gekry nie.” Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die kledingstuk voor die oudstes van die dorp oopsprei. 18Die oudstes van daardie dorp moet daardie man vat en hom straf. 19Hulle moet hom 'n boete van honderd silwerstukke oplê en dit vir die jong vrou se vader gee omdat die man 'n maagd uit Israel 'n slegte naam gegee het. Sy moet sy vrou wees. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef.
20“ Maar as hierdie beskuldiging waar is, as maagdelikheid nie by die jong vrou gekry is nie, 21 dan moet hulle haar uitbring na die ingang van haar vader se huis en die manne van die dorp moet haar met klippe doodgooi, sodat sy sterf, omdat sy 'n gruweldaad gepleeg het in Israel deur in haar vader se huis te hoereer. Jy moet die kwaad by jou uitroei.
22“ As 'n man betrap word dat hy met 'n getroude vrou gemeenskap het, moet albei sterf: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het en ook die vrou. Jy moet die kwaad in Israel uitroei.
23“ As 'n jong vrou, 'n maagd, verloof is aan 'n man en iemand ontmoet haar in die dorp en het met haar gemeenskap, 24 dan moet julle hulle al twee na daardie dorp se poort uitbring en hulle met klippe doodgooi, sodat hulle sterf – die jong vrou omdat sy nie in die dorp uitgeroep het nie en die man omdat hy die vrou van sy naaste verneder het. Jy moet die kwaad by jou uitroei. 25Maar as die man die jong vrou wat verloof is, in die veld kry en haar gryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterf. 26Aan die jong vrou mag jy nie iets doen nie. Sy het nie 'n sonde begaan wat die dood verdien nie, want in hierdie geval is dit dieselfde as wanneer 'n man sy naaste oorval en die persoon vermoor. 27Hy het haar immers in die veld gekry; die jong verloofde vrou het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie.
28“ As 'n man 'n jong vrou, 'n maagd wat nie verloof is nie, in die veld kry en haar vasgryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, 29moet die man wat met haar gemeenskap het, vir die jong vrou se vader vyftig silwerstukke gee. Sy moet dan sy vrou wees, omdat hy haar verneder het. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef.
30 “'n Man mag nie 'n vrou van sy vader neem nie. Hy mag nie die naaktheid ontbloot wat aan sy vader behoort nie.

Currently Selected:

Deuteronomium 22: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in