YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 2

2
In Christus van die dood na die lewe
1 Julle was dood deur die oortredings en sondes 2waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. 3Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. 4-5 Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met •Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! 6 Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, 7sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. 8Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. 9Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. 10Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
Eenheid in Christus
11Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. 12Onthou dat julle in daardie tyd sonder •Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus.
14Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. 15Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, 16en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. 17 En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. 18 Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees.
Een bouwerk van God
19 So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, 20gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. 21 In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot 'n heilige tempel in die Here. 22 In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.

Currently Selected:

Efesiërs 2: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Efesiërs 2