YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 13

13
Voorskrifte oor die ongesuurde brood en eersgeborenes
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2 “Wy al die eersgeborenes aan My. Die eerstelinge van elke moederskoot onder die Israeliete, van mense en diere, behoort aan My.”
3Moses het vir die volk gesê: “Herdenk hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het; want deur 'n sterk hand het die Here julle hier uitgelei. Iets wat suurdeeg bevat, mag nie geëet word nie. 4 Vandag, in die maand Abib, trek julle weg. 5Wanneer die Here jou bring in die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Hewiete en die Jebusiete, die land wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, moet jy in hierdie maand die volgende gebruik handhaaf: 6Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet daar 'n fees ter ere van die Here wees. 7 Ongesuurde brood moet sewe dae lank geëet word. Daar mag by jou nie iets met suurdeeg in te sien wees nie; ja, in jou hele grondgebied mag daar nie suurdeeg by jou te sien wees nie. 8 Jy moet jou seun op daardie dag inlig en sê, ‘Dit is ter herdenking van wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ 9Dit sal vir jou dien as 'n teken op jou hand en as 'n herinneringsteken op jou voorkop, sodat die wet van die Here op jou lippe sal wees. Want met 'n sterk hand het die Here jou uit Egipte uitgelei. 10Jy moet hierdie vaste voorskrif op die bepaalde tyd, jaar ná jaar, nakom.
11 “Wanneer die Here jou in die land van die Kanaäniete bring, soos Hy vir jou en jou voorvaders met 'n eed beloof het, en Hy dit vir jou gee, 12 moet jy elke eersteling van die moederskoot aan die Here afstaan. Elke eersteling van die aanteel van jou vee wat jy kry, die manlikes, behoort aan die Here. 13 Elke eersteling van 'n donkie moet jy loskoop met 'n lam. As jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Elke eersgeborene onder jou seuns moet jy loskoop.
14“ As jou seun jou in die toekoms vra, ‘Wat beteken dit?’ moet jy vir hom sê, ‘Met 'n sterk hand het die Here ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, uitgelei. 15Toe die farao te koppig was om ons te laat gaan, het die Here al die eersgeborenes in Egipteland doodgemaak, van die eersgeborenes van mense tot die eersgeborenes van die vee. Daarom offer ek aan die Here elke manlike eersteling van die vee, maar elke eersgeborene van my seuns koop ek los.’ 16Dit sal as 'n teken op jou hand en 'n versiering op jou voorkop dien, want met 'n sterk hand het die Here ons uit Egipte uitgelei.”
Deurtog deur die Rietsee
17Toe die farao die volk laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad na die land van die Filistyne nie, al was dit nader; want God het gesê: “Anders kry die volk spyt wanneer hulle oorlog in die gesig staar, en keer hulle terug na Egipte.” 18God het toe die volk 'n ompad laat neem met die woestyn langs na die Rietsee.
Die Israeliete het in slagorde uit Egipteland opgetrek. 19 Moses het die beendere van Josef met hom saamgeneem, want Josef het die Israeliete plegtig 'n eed laat aflê; hy het gesê: “God sal beslis na julle omsien, dan moet julle my beendere hiervandaan saam met julle neem.”
20Hulle het van Sukkot af weggetrek en kamp opgeslaan by Etam, aan die rand van die woestyn. 21 Die Here het bedags in 'n wolkkolom voor hulle uitgegaan om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om aan hulle lig te verskaf, sodat hulle bedags en snags kon trek. 22Die wolkkolom het bedags en die vuurkolom snags, nie voor die volk weggegaan nie.

Currently Selected:

Eksodus 13: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in