YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 38

38
Profesie teen Gog
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Mensekind, draai jou gesig na Gog van die land Magog, die hoofleier van Meseg en Tubal, profeteer teen hom 3en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Gog, hoofleier van Meseg en Tubal! 4Ek sal jou laat omdraai, Ek sal hake deur jou kake steek en jou op 'n veldtog laat uittrek, saam met jou hele leërmag – perde en ruiters, almal weelderig geklee, 'n groot menigte met grootskilde en kleinskilde, almal met swaarde gewapen. 5Persië, Kus en Put is saam met hulle, almal met skild en helm. 6Gomer en al sy troepe, Bet-Togarma in die afgeleë noorde, met al sy troepe – baie volke is saam met jou. 7Maak gereed en hou jou gereed, jy en die hele skare wat by jou aangesluit het. Tree vir hulle op as 'n wag. 8 Ná 'n lang tyd sal jy opgeroep word; aan die einde van jare sal jy gaan na 'n land wat weer herstel het ná die swaard, 'n land waarvan die mense byeengebring is uit baie volke op die berge van Israel, die berge wat langdurig in puin gelê het. Hulle is uit die volke uitgelei, en hulle almal woon veilig. 9 Jy sal optrek; soos 'n stormwind wat losbreek, sal jy aankom, soos 'n wolkmassa om die land te bedek sal jy wees – jy en al jou troepe en die baie volke by jou.”
10“ ‘So sê my Heer, die Here: “Daardie dag sal daar dinge in jou hart opkom; en jy sal 'n bose plan bedink 11en sê, ‘Ek sal optrek teen 'n land wat oop lê; ek sal toesak op hulle wat onverstoord en veilig woon, op almal wat sonder stadsmuur woon, en selfs nie 'n sluitbalk of poortdeure het nie.’ 12Jou doel sal wees om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat bewoon word, teen 'n volk wat byeengebring is uit die nasies, wat kleinvee en besittings verkry het, wat woon in die middel van die aarde. 13Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis, met al sy jong leeus, sal vir jou vra, ‘Is dit om oorlogsbuit te roof dat jy gekom het? Is dit om buit te maak dat jy jou hordes byeengebring het – om silwer en goud weg te dra, om kleinvee en besittings te vat, om 'n groot oorlogsbuit te roof?’ ” ’
14“Daarom, profeteer, mensekind, en sê vir Gog, ‘So sê my Heer, die Here: “Sal jy dit nie besef, daardie dag wanneer my volk Israel veilig woon nie? 15 Jy sal uit jou woonplek kom, uit die afgeleë noorde, jy en baie volke saam met jou, almal ruiters te perd, 'n groot menigte, 'n ontsaglike leër. 16Jy sal optrek teen my volk Israel, soos 'n wolkmassa, om die land te bedek. Aan die einde van die dae sal dit gebeur. Ek sal jou op my land laat toesak, sodat die nasies My kan leer ken wanneer Ek Myself voor hulle oë deur jou, Gog, as die Heilige betoon. ”
17“ ‘So sê my Heer, die Here: “Is jy die een van wie Ek in vervloë dae gepraat het by monde van my diensknegte, die profete van Israel, wat in daardie tyd jare lank geprofeteer het dat Ek jou teen hulle te staan sal bring? 18Maar daardie dag, die dag wanneer Gog op die grondgebied van Israel toesak,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal dít gebeur: In my toorn sal my woede opvlam. 19 Met heilige jaloesie, met die vuur van my gramskap, verklaar Ek: Op daardie dag sal daar 'n groot aardbewing wees op die grondgebied van Israel. 20Vanweë my teenwoordigheid sal die visse in die see, die voëls van die hemel, die diere van die veld, al die diere wat op die grond kruip, en elke mens op aarde bewe. Die berge sal intuimel, die kranse sal ineenstort, en elke stadsmuur sal op die grond val. 21 Ek sal die swaard teen Gog ontbied ter wille van al my berge,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Die een se swaard sal teen die ander gerig wees. 22 Ek sal met hom die saak bereg deur pessiekte en bloedvergieting. Geweldige stortreën, groot haelstene, vuur en swael sal Ek op hom, op sy troepe en op baie volke wat by hom is, laat neerreën. 23 Ek sal Myself groot en heilig betoon en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies. Hulle sal besef dat Ek die Here is.” ’

Currently Selected:

Esegiël 38: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for Esegiël 38