YouVersion Logo
Search Icon

Esra 7

7
Terugkeer na Jerusalem
1 Ná hierdie gebeure, tydens die regering van Artasasta, koning van Persië, het Esra na vore getree. Hy was 'n seun van Seraja, seun van Asarja, seun van Gilkija, 2 seun van Sallum, seun van Sadok, seun van Agitub, 3seun van Amarja, seun van Asarja, seun van Merajot, 4seun van Seragja, seun van Ussi, seun van Bukki, 5seun van Abisua, seun van Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron, die hoëpriester. 6 Hierdie Esra het opgetrek uit Babilonië. Hy was self 'n skrifgeleerde, kundig in die Wet van Moses wat die Here, die God van Israel, gegee het. Die koning het alles wat hy gevra het aan hom gegee, omdat die Here, sy God, se hand oor hom was.
7 Nog ander Israeliete en van die priesters, die Leviete, die sangers, poortwagte en tempeldienaars het ook in die sewende regeringsjaar van koning Artasasta na Jerusalem opgetrek. 8Esra het in die vyfde maand in Jerusalem aangekom. Dit was in die sewende regeringsjaar van die koning: 9 Die reis uit Babilonië het begin op die eerste dag van die eerste maand en hy het op die eerste dag van die vyfde maand in Jerusalem aangekom, omdat die goeie hand van sy God oor hom was. 10 Esra het hom immers daarop toegelê om die Wet van die Here te bestudeer en dit te gehoorsaam en om die voorskrifte en reëls in Israel vir mense te leer.
Brief van koning Artasasta
11 Dit is 'n afskrif van die brief wat koning Artasasta gegee het aan Esra die priester, die skrifgeleerde, kenner van sake in verband met die wette van die Here en sy voorskrifte aan Israel:
12“ Artasasta, koning van die konings,
aan Esra, die priester, kenner van die wet van die God van die hemel:
“Gegroet!
13“ Ek het opdrag gegee dat enigiemand in my koninkryk uit die volk Israel en van sy priesters en Leviete wat gewillig is om na Jerusalem te gaan, saam met jou mag gaan. 14 Daarom word jy deur die koning en sy sewe raadgewers gestuur om ondersoek in te stel oor Juda en Jerusalem, in ooreenstemming met die wet van jou God wat jy ter hand het, 15 en om die silwer en goud saam te neem wat die koning en sy raadgewers vrywillig bygedra het vir die God van Israel wie se woning in Jerusalem is, 16 asook al die silwer en goud wat jy in die hele provinsie Babel sal vind, sowel as die vrywillige bydraes van die volk en die priesters wat hulle gee vir die huis van hulle God wat in Jerusalem is. 17 Jy moet daarna noukeurig aankope doen met hierdie geld: bulle, ramme, lammers en •graan- en •drankoffers wat daarby hoort. Offer dit dan op die altaar van die huis van julle God wat in Jerusalem is.
18“En wat jy en jou ampsgenote ook al goed mag vind om met die res van die silwer en die goud te doen, doen dit in ooreenstemming met die wil van julle God. 19 Die tempelgerei wat aan jou oorhandig word vir die dienswerk in die huis van jou God moet jy aflewer voor die God van Jerusalem. 20 Die res van wat benodig word vir die huis van jou God en wat jy dalk moet verskaf, kan jy betaal uit die staatskas van die koning.
21“ Ek, koning Artasasta, het die volgende opdrag gegee aan al die tesouriere in Wes-Eufraat, ‘Alles wat Esra, die priester, kenner van die wet van die God van die hemel, julle vra, moet noukeurig gelewer word, 22tot 'n honderd kikkar silwer en 'n honderd kor koring en 'n honderd bat wyn en 'n honderd bat olie en sout sonder beperking. 23 Alles wat in ooreenstemming met die bevel van die God van die hemel is, moet vir die huis van die God van die hemel op die regte manier uitgevoer word; want waarom moet die toorn van God rus op die ryk van die koning en sy seuns? 24 Verder word julle ook in kennis gestel dat dit nie toelaatbaar is om van enige van die priesters en Leviete, sangers, poortwagte, tempeldienaars en ander dienaars in hierdie huis van God, belasting, heffings en tolgeld te vra nie.’
25“ En jy, Esra, deur die wysheid van jou God waaroor jy beskik, moet jy regsamptenare en regters aanstel wat die regsake van die hele volk in Wes-Eufraat kan behartig, almal wat die wette van jou God ken. En as iemand dit nie ken nie, moet julle hom leer. 26 Teen elkeen wat nie die wet van jou God en die wet van die koning onderhou nie, moet streng geregtelike stappe gedoen word, hetsy deur die doodstraf, verbanning, beslaglegging of tronkstraf.”
Esra se dankbaarheid
27 Lofwaardig is die Here, die God van ons voorouers! Dit is Hy wat dit op so 'n manier in die koning se hart gelê het om luister te verleen aan die huis van die Here wat in Jerusalem is, 28 en wat aan my sy troue liefde bewys het voor die koning en sy raadgewers en al die magtige amptenare van die koning. En ek, ek het moed geskep omdat die hand van die Here my God oor my was, en ek het besluit om die familiehoofde uit Israel bymekaar te laat kom om saam met my te reis.

Currently Selected:

Esra 7: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in