YouVersion Logo
Search Icon

Galasiërs 2

2
Evangelie in Jerusalem
1 Daarna, veertien jaar later, het ek weer, saam met Barnabas, na Jerusalem opgegaan. Ek het ook Titus saamgeneem. 2Ek het op grond van 'n openbaring opgegaan, en die evangelie wat ek onder die heidene verkondig, aan hulle voorgelê – afsonderlik aan die mense van aansien – sodat ek nie vergeefs hardloop of gehardloop het nie. 3Maar selfs Titus, wat saam met my was, is nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is. 4Die saak het ontstaan omdat skynheilige broers, wat onder valse voorwendsels ingesmokkel is, ingesypel het om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om van ons slawe te maak. 5Ons het nie vir 'n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly. 6Maar die mense van aansien – wat hulle vroeër was – maak aan my geen verskil nie; God slaan nie ag op die aansien wat 'n mens het nie. Ja, die vooraanstaande mense het my niks meer opgelê nie. 7Inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie aan die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos aan •Petrus die evangelie aan die besnedenes 8– want Hy wat kragtig in Petrus gewerk het, met die oog op sy diens as •apostel aan die besnedenes, het ook kragtig in my gewerk, met die oog op die heidene – 9het Jakobus en Sefas en Johannes, wat as die pilare gereken is, die genade wat aan my gegee is, begryp, en het hulle die regterhand van broederskap na my en Barnabas gereik, sodat ons na die heidene sou gaan, en hulle na die besnedenes. 10 Ons moes slegs sorg dat ons die armes in gedagte hou – presies wat ek my ook beywer het om te doen.
Stryd in Antiogië
11Toe Sefas in Antiogië aangekom het, het ek hom egter openlik teengegaan, omdat hy veroordeeld gestaan het; 12want voordat sekere mense van Jakobus opgedaag het, het Sefas gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle opdaag, het hy hom teruggetrek en afgesonder, omdat hy bang was vir diegene uit die besnydenis. 13En die ander Jode het ook saam met hom skynheilig opgetree, met die gevolg dat selfs Barnabas deur hulle skynheiligheid meegevoer is. 14Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: “As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”
15Ons is gebore Jode, en nie sondaars uit die heidene nie; 16en tog weet ons dat 'n mens nie op grond van die uitvoering van die wet geregverdig kon word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus •Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons regverdig verklaar kon word op grond van geloof in Christus, en nie op grond van die uitvoering van die wet nie; omdat geen mens op grond van die uitvoering van die wet geregverdig sal word nie. 17Maar as ons, deurdat ons versoek om in Christus geregverdig te word, ook self as sondaars bevind word, maak dit Christus 'n dienaar van die sonde? Hoegenaamd nie! 18Want as ek dit wat ek afgebreek het weer opbou, betoon ek myself daarmee as 'n oortreder.
19Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; 20ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. 21Ek verwerp nie die genade van God nie; want as •vryspraak deur die wet kom, dan het Christus tevergeefs gesterf.

Currently Selected:

Galasiërs 2: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Galasiërs 2