YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 32

32
1 Jakob het sy reis voortgesit. Engele van God het hom teëgekom. 2 Jakob het, toe hy hulle sien, gesê: “Dit is die leër van God!” Hy het daardie plek toe Maganajim genoem.
3 Jakob het boodskappers voor hom uit gestuur na Esau, sy broer, na die land Seïr, in die gebied van Edom. 4 Hy het hulle opdrag gegee: “So moet julle vir my heer, vir Esau, sê, ‘So sê u dienaar Jakob: “By Laban het ek as •vreemdeling gewoon, en ek het daar vertoef tot nou toe. 5 Ek het beeste en donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek stuur graag die boodskappers om my heer in te lig, sodat ek guns kan vind in u oë.” ’ ”
6 Die boodskappers het na Jakob teruggekeer en gesê: “Ons het by u broer Esau aangekom. Wat meer is, hy is op pad om u te ontmoet, met vierhonderd man by hom!” 7 Jakob het baie bang geword; dit het hom benoud gemaak. Hy het toe die mense wat by hom was, die kleinvee, die beeste en kamele in twee kampe verdeel. 8Hy het gedink: As Esau op die een kamp afkom en dit aanval, kan die kamp wat oorbly, ontvlug.
9 Jakob het gesê: “God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, Here, U wat vir my gesê het, ‘Gaan terug na jou land en jou familie, en Ek sal aan jou goed doen’ 10– ek is te gering vir al die gunsbewyse en al die trou wat U aan u dienskneg bewys het, want ek het met net my wandelstok hierdie Jordaan oorgesteek, en nou het ek twee vol kampe geword. 11 Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom. Anders kom hy en verslaan my – die ma's saam met die kinders. 12 U het self gesê, ‘Ek sal beslis aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see, wat vanweë die hoeveelheid nie getel kan word nie.’ ”
13 Jakob het daardie nag daar oorgebly. Toe het hy uit wat hy bekom het, vir sy broer Esau 'n geskenk gehaal: 14tweehonderd bokooie en twintig bokramme, tweehonderd skaapooie en twintig skaapramme, 15dertig kameelkoeie in melk met hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien donkiehingste. 16Hy het dit onder die toesig van sy slawe geplaas – trop vir trop elkeen op sy eie. Hy het vir sy slawe gesê: “Trek voor my uit, maar hou 'n afstand tussen trop en trop.” 17Hy het die eerste een opdrag gegee: “As my broer Esau jou teëkom en vir jou vra, ‘Aan wie behoort jy; waarheen gaan jy, en aan wie behoort daardie diere voor jou?’ 18moet jy sê, ‘Dit behoort aan u dienaar, aan Jakob. Dit is 'n geskenk, gestuur vir my heer, vir Esau. Kyk, hy is ook self agter ons.’ ”
19Hy het aan sowel die tweede en die derde slaaf, asook aan almal wat agter die troppe loop, opdrag gegee: “Julle moet hierdie selfde woorde vir Esau sê wanneer julle hom teëkom, 20en julle moet ook sê, ‘Kyk, u dienaar Jakob is agter ons.’ ” Want hy het gedink: Ek wil hom tot bedaring bring met die geskenk wat voor my uit gaan; daarna sal ek hom persoonlik ontmoet. Miskien aanvaar hy my. 21Die geskenk het voor hom uit gegaan, maar hy self het daardie nag in die kamp oornag.
22 In daardie nag het hy opgestaan, sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die drif van die Jabbok gegaan. 23Hy het hulle geneem, hulle deur die spruit laat gaan, en alles wat aan hom behoort, laat deurgaan. 24 Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. 25Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. 26Hy het gesê: “Laat my gaan, want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën.” 27Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” 28 Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.” 29 Jakob vra toe en sê: “Maak asseblief u Naam bekend!” Maar hy het geantwoord: “Waarom vra jy dan my Naam?” Hy het hom toe daar geseën.
30 Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.”
31Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan. Hy was mank aan sy heup. 32Daarom eet die Israeliete tot vandag toe nie die seningrige spier wat aan die heupgewrig vas is nie, omdat hy die heupgewrig van Jakob, die seningrige spier, getref het.

Currently Selected:

Genesis 32: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in