YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 34

34
1 Dina, die dogter wat Lea vir Jakob in die wêreld gebring het, het uitgegaan om na die dogters van die omgewing te gaan kyk. 2 Toe Sigem, die seun van Gamor, die Hewiet, en die leier van die gebied, haar sien, het hy haar geneem, by haar geslaap en haar verneder. 3Hy was geheg aan Dina, die dogter van Jakob. Hy het verlief geraak op die jong meisie, en hy het mooi met die jong meisie gepraat. 4 Sigem sê toe vir Gamor, sy vader: “Kry vir my hierdie meisie as vrou.”
5 Jakob het gehoor dat hy sy dogter Dina onteer het. Maar sy seuns was nog by die vee in die veld, en hy het stilgebly totdat hulle gekom het.
6Gamor, Sigem se vader, het uitgegaan na Jakob om met hom te onderhandel. 7 Die seuns van Jakob het uit die veld gekom die oomblik toe hulle die berig kry. Die manne was diep gegrief en baie kwaad, want Sigem het 'n gruweldaad gepleeg teen Israel deur by die dogter van Jakob te slaap. So iets mag nie gedoen word nie.
8Gamor het met hulle onderhandel en gesê: “My seun Sigem het sy hart verloor op julle dogter. Gee haar asseblief aan hom as vrou. 9 Ondertrou met ons! Julle kan julle dogters vir ons gee en ons dogters vir julle neem. 10 Julle kan by ons woon. Die land lê oop voor julle: Woon daar, trek daar rond en verkry eiendom daar.”
11Sigem sê toe vir haar vader en broers: “Mag ek guns vind in julle oë! Wat julle ook al van my vra, sal ek gee. 12 Maak die bruidsprys vir my maar baie hoog, en ook die geskenk, en ek sal gee wat julle vir my sê. Gee net vir my die jong meisie as vrou.”
13Die seuns van Jakob het Sigem en Gamor, sy vader, met sluheid geantwoord, en het onderhandel, omdat hy hulle suster Dina onteer het. 14 Hulle het vir hulle gesê: “Ons kan so iets nie doen nie – om ons suster te gee aan 'n man wat nie besny is nie; trouens, dit sal vir ons 'n skande wees. 15 Net op hierdie voorwaarde sal ons instem: as julle word soos ons, deur al die manlikes by julle te laat besny. 16Ons sal dan ons dogters aan julle gee en julle dogters vir ons neem. Ons sal by julle woon en een volk word. 17Maar as julle nie aan ons gehoor gee deur besny te word nie, vat ons ons dogter en vertrek.”
18Hulle woorde was goed in die oë van Gamor en Sigem, seun van Gamor. 19Die jong man het nie getalm om die saak tot uitvoer te bring nie, want hy het Jakob se dogter begeer, en hy was die mees geëerde lid van sy vader se hele familie.
20 Gamor en sy seun Sigem het na die poort van hulle dorp gegaan en met die manne van hulle dorp onderhandel: 21“Hierdie manne is vredeliewend. Laat hulle by ons woon in die land en daarin rondtrek. Kyk, die land lê alkante toe wyd oop voor hulle. Hulle dogters kan ons vir ons as vroue neem, en ons dogters kan ons aan hulle gee. 22Net op hierdie voorwaarde sal die manne instem om by ons te bly, om een volk te word: as al die manlikes by ons besny word, soos hulle besny is. 23Hulle vee en besittings, ja, al hulle diere – sal dit nie aan ons behoort nie? Ons moet net instem, dan sal hulle by ons bly.” 24 Hulle het toe na Gamor en sy seun Sigem geluister – almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp. Elke manlike persoon is besny, almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp.
25 Maar op die derde dag, toe hulle in pyn verkeer, het die twee seuns van Jakob, Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat, ongehinderd die dorp oorval en al die manlike persone doodgemaak. 26Ook Gamor en sy seun Sigem het hulle met die skerpte van die swaard doodgemaak. Hulle het Dina uit Sigem se huis geneem en weggegaan. 27Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes toegesak en die dorp geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het. 28Hulle kleinvee, beeste en donkies en alles wat in die dorp en in die veld was, het hulle gevat. 29Al hulle rykdom, al hulle kinders en vroue, het hulle weggevoer en alles wat binnenshuis was, buitgemaak.
30 Jakob het vir Simeon en Levi gesê: “Julle het my in die ongeluk gestort deur my veragtelik te maak by die inwoners van die land, by die Kanaäniete en Feresiete. Ek het maar min mense; as hulle teen my saamtrek en my aanval, sal ek uitgedelg word, ek en my huis.” 31Hulle het egter gesê: “Moes hy dan ons suster soos 'n hoer behandel?”

Currently Selected:

Genesis 34: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in