YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 13

13
Profesieë oor Babel
1'n Profesie oor Babel, wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is.
2 “Hou op 'n kaal heuwel
'n banier omhoog;
roep hulle hardop toe,
wink met die hand,
sodat hulle die poorte
van vooraanstaandes binnegaan.
3Ek self het my gewydes
opdrag gegee;
Ek het selfs my helde ontbied,
met die oog op my toorn –
hulle wat triomfantelik is
oor my verhewenheid.”
4 Luister!
Die gedruis op die berge
soos van baie manskappe!
Luister!
Die gedreun van koninkryke,
van nasies wat byeen is!
Die Here, Heerser oor alle magte,
monster 'n leër vir oorlog.
5 Hulle is aan die kom
uit 'n ver land,
van die einde van die hemel af –
die Here en die werktuie
van sy vervloeking,
om die hele aarde
ten gronde te laat gaan.
6 Huil, want die dag van die Here
is naby!
Soos 'n verwoesting
kom dit van die Almagtige.
7 Daarom sal alle hande slap word,
en elke mensehart ineenkrimp.
8 Hulle raak angsbevange;
krampe en geboortepyne
pak hulle beet –
soos 'n vrou wat geboorte gee,
krimp hulle ineen.
Hulle staar mekaar aan –
soos vlamme is hulle gesigte.
9 Kyk, die dag van die Here
is aan die kom
– wreed, vol gramskap
en brandende toorn –
om die aarde 'n skrikbeeld te maak,
en die sondaars van die aarde
daarvan af uit te delg.
10 Ja, die sterre aan die hemelruim,
en Orion met sy sterrebeelde
laat nie meer hulle lig skyn nie.
Die son word donker
sodra dit opkom,
en die maan straal nie sy lig uit nie.
11 “Ek sal van die wêreld
rekenskap eis oor boosheid,
en van goddeloses
oor hulle sondeskuld.
Ek sal 'n einde maak
aan die hoogmoed
van vermeteles;
die trots van geweldenaars
sal Ek verander in vernedering.
12 Ek sal sterflinge skaarser maak
as fyngoud,
mense skaarser as goud uit Ofir.
13 Daarom sal Ek die hemel
laat sidder,
en die aarde sal uit sy plek skud
vanweë die gramskap
van die Here, Heerser oor alle magte,
op die dag van sy brandende toorn.
14 Dit sal wees soos met
'n verskrikte gasel,
en kleinvee wat niemand
bymekaar hou nie.
Elkeen van hulle
sal na sy volk draai,
en elkeen van hulle na sy land vlug.
15 Elkeen wat gevind word,
sal deurboor word;
en elkeen wat weggesleep word,
sal val deur die swaard.
16 Hulle kinders sal voor hulle oë
te pletter geslaan word;
hulle huise sal geplunder word,
en hulle vroue sal verkrag word.
17 Kyk, Ek gaan die Meders
teen hulle aanhits,
hulle wat silwer
nie hoog aanslaan nie,
en in goud geen genot vind nie.
18Die boogskutters
sal jongmanne verpletter.
Met die vrug van die moederskoot
toon hulle geen meegevoel nie;
oor kinders stort hulle
nie 'n traan nie.
19 Met Babel, die sieraad
onder koninkryke,
die trotse pragstuk
van die Galdeërs,
sal dit wees soos met God
se verwoesting van Sodom en Gomorra.
20 Dit sal nooit weer
bewoon word nie,
en geslag ná geslag
nie 'n tuiste bied nie.
Arabiere sal nie daar
tent opslaan nie,
en herders sal nie 'n kudde daar
laat rus nie.
21 Woestyndiere sal daar gaan rus.
Die huise sal vol uile wees;
steenuile sal daar tuis wees,
en •veldgode sal daar ronddans.
22Hiënas sal in die vestings lag,
en jakkalse in die weelderige paleise.
Babel se tyd is voor die deur;
haar lewensdae sal nie verleng
word nie.”

Currently Selected:

Jesaja 13: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jesaja 13