YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 3

3
1 Ja, kyk, die Here, die Heer,
Heerser oor alle magte,
gaan uit Jerusalem en Juda
elke stut en steun verwyder:
alle steun op brood,
en alle steun op water,
2op helde en krygsmanne,
regters en profete,
voorspellers en oudstes,
3op •aanvoerders van vyftig
en manne van aansien,
raadgewers, ervare towenaars
en kundige besweerders.
4 Die Here sê:
“Ek maak jong manne
hulle bevelvoerders;
kwaadwilliges sal oor hulle heers.
5 Die mense sal mekaar vertrap –
die een die ander,
elkeen sy medemens.
'n Jong man sal 'n ou man aanval,
en 'n nikswerd 'n geëerde.
6As 'n man sy familielid vasgryp
in die huis van sy vader en sê,
‘Jy het 'n oorkleed,
jy moet ons •gesagvoerder wees;
hierdie puinhoop
sal onder jou beheer wees,’
7sal hy op daardie dag
teenstribbel en sê,
‘Ek is nie 'n geneser nie,
en in my huis is geen brood
en geen oorkleed nie.
Julle mag my nie aanstel
as gesagvoerder oor mense nie.’
8Want Jerusalem het gestruikel,
en Juda het geval.
Hulle tonge en hulle dade
was teen die Here gerig,
om sy blik, wat eerbied inboesem,
uit te daag.
9 Hulle vooroordeel getuig
teen hulle;
en hulle sonde – soos Sodom
maak hulle dit bekend,
en steek dit nie weg nie.
Wee hulle!
Want hulle doen hulleself
kwaad aan.
10“ Sê vir die regverdiges
dat dit goed sal gaan,
want die vrug van hulle dade
sal hulle geniet.
11 Wee die goddeloses!
Dit sal sleg gaan;
want wat hulle hande aangerig het,
sal aan hulle gedoen word.
12 My volk –
sy verdrukkers is geweldenaars,
skuldeisers heers oor hulle.
My volk, jou leiers lei jou
op 'n dwaalweg;
oor die rigting van jou paaie
is hulle in die war.”
13 Die Here het sy plek ingeneem
vir die hofstryd;
Hy staan gereed
om mense te oordeel.
14Die Here kom met 'n klag
teen die oudstes van sy volk
en teen hulle aanvoerders:
“Julle het self die wingerd afgewei.
Wat geroof is van die magtelose,
is in julle huise.
15Wat gaan met julle aan?
Julle vertrap my volk,
julle vergruis die gesigte
van magteloses.”
Dit is die uitspraak van my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
16 Die Here sê:
“Omdat die vroue van Sion
hovaardig is,
met uitgestrekte nek rondloop,
en met verleidelike oë
al trippelend wegstap,
met ringe wat klingel
aan hulle enkels,
17sal my Heer
die vroue van Sion se skedels
met skurfte aantas;
die Here sal hulle voorhoofde
ontbloot. ”
18 Op daardie dag sal my Heer
die versierings wegneem:
die enkelringe, sonnetjies en
halfmaantjies,
19die oorbelle, armbande
en sluiers,
20die kopbande, enkelkettings
en lyfserpe,
die reukflesse, amulette,
21ringe en neusringe,
22die feesklere, mantels,
skouermantels en handsakkies,
23die deurskynende klere,
linnehemde, •tulbande en sjaals.
24In plaas van die geur van speserye
sal daar stank wees,
in plaas van 'n gordel 'n tou,
in plaas van haarlokke 'n kaal kop,
in plaas van deftige klere, 'n roukleed,
in plaas van skoonheid 'n brandmerk.
25Jou manne, Sion –
deur die swaard sal hulle val,
jou sterk manne in die oorlog.
26 Sion se ingange
sal weeklaag en treur,
kaalgestroop van mense,
sal sy op die grond sit.

Currently Selected:

Jesaja 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jesaja 3