YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 32

32
1 Kyk, met regverdigheid
sal 'n koning regeer,
en in geregtigheid
sal •hoë amptenare heers.
2 Elkeen van hulle sal daar wees,
as 'n skuiling teen die wind,
'n beskutting teen stortbuie,
as waterstrome in 'n dor streek,
as die skadu van 'n swaar rots
in 'n vermoeide land.
3 Die oë van hulle wat sien,
sal nie meer wegkyk nie,
en die ore van hulle wat hoor,
sal aandagtig luister.
4Die harte van oorhaastiges
sal op kennis ag slaan,
en die tonge van stamelaars
sal vinnig en duidelik praat.
5 'n Sot sal nie meer “edel”
genoem word nie,
en 'n skurk sal nie as “hoogheid”
aangespreek word nie.
6Want 'n sot raak sothede kwyt,
en sy hart hou hom besig met onreg:
deur goddeloosheid te bedryf,
deur onwaarhede oor die Here
kwyt te raak,
deur die kele van hongeriges
leeg te laat
en deur iets te drinke
te weerhou van wie dors is.
7 En 'n skurk – sy werktuie is sleg;
hy is die een wat skanddade beplan
om magteloses deur bedrieglike
woorde uit te roei,
ook wanneer 'n behoeftige
'n eis voorlê.
8Die edele beraam egter
edel planne,
hy is die een wat staan
by wat edel is.
9 Sorgelose vroue, staan op,
luister na my stem!
Dogters vol vertroue,
hoor my woorde!
10Oor net meer as 'n jaar
sal julle sidder,
julle wat houtgerus is;
want die druiweoes is verby,
daar kom nie meer 'n insameling nie.
11Raak aan die bewe,
sorgelose vroue!
Sidder, julle wat houtgerus is!
Trek julle uit, ontklee!
Gord rouklere aan julle heupe!
12Slaan julleself op die bors
oor die pragtige landerye,
oor die vrugbare wingerde,
13 oor die grond van my volk.
Doringstruike sal daar opkom,
ja, waar al die huise vol vreugde,
die uitbundige dorp, was.
14 Ja, die vesting lê verwaarloos;
die rumoer van die stad is verby.
Die Ofel en wagtorings
word kaal veld vir altyd –
'n vreugde vir wildedonkies;
'n weiveld vir veekuddes;
15 totdat 'n gees van bo af
uitgestort word oor ons,
totdat 'n woesteny
'n vrugteboord word,
en 'n vrugteboord
as 'n bos beskou word.
16Dan sal die reg
in die woesteny tuis wees,
en geregtigheid
sal in die vrugteboord woon.
17 Die uitwerking van geregtigheid
sal vrede wees,
die uitkoms van geregtigheid
kalmte en vertroue vir altyd.
18My volk sal in 'n tuiste
van vrede woon,
in veilige woonplekke,
in ongestoorde rusplekke.
19 Dit sal hael wanneer die bos
platgeslaan word,
wanneer die stad
in vernedering neersink.
20 Gelukkig is julle wat langs
al die water saai,
julle wat beeste en donkies
vrye loop gee.

Currently Selected:

Jesaja 32: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jesaja 32