YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 39

39
1 In die negende jaar van Sedekia se regering, koning van Juda, in die tiende maand, het Nebukadresar, die koning van Babilonië, met sy hele leër by Jerusalem aangekom en dit beleër. 2In die elfde regeringsjaar van Sedekia, in die vierde maand, op die negende van die maand, is die stadsmuur deurgebreek. 3 Al die bevelvoerders van die koning van Babilonië het gekom en plaasgeneem in die Middelpoort. Dit was Nergal-Sareser uit Sinmagir en die rabsaries Nebosarsekim – Nergal-Sareser was die hoofbevelvoerder – en ook al die ander bevelvoerders van die koning van Babilonië. 4Toe koning Sedekia van Juda en al die krygsmanne hulle sien, het hulle gevlug en in die nag met die pad deur die koning se tuin by die poort tussen die twee mure uit die stad gegaan. Hy het met die pad na die Araba uitgegaan.
5Maar die leër van die Galdeërs het hulle agternagesit, en Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Hulle het hom gevange geneem en hom na Nebukadresar, die koning van Babilonië, na Ribla, in die land Hamat, geneem, en hy het vonnisse oor hom uitgespreek: 6 Die koning van Babilonië het in Ribla die seuns van Sedekia voor sy oë tereggestel. Die koning van Babilonië het ook al die hoëlui van Juda tereggestel. 7 Sedekia se oë het hy verblind en hom met bronskettings geboei om hom na Babel te neem. 8 Die paleis van die koning en die huise van die volk het die Galdeërs afgebrand, en die stadsmure van Jerusalem het hulle afgebreek. 9Die deel van die bevolking wat nog by die stad oor was, dié wat na hom oorgeloop het en die res van die bevolking wat oorgebly het, is deur Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer na Babilonië. 10Van die armstes van die bevolking wat niks gehad het nie, het Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in die land Juda laat agterbly. Hy het in dié tyd vir hulle wingerde en landerye gegee.
11Nebukadresar, die koning van Babilonië, het deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, oor Jeremia die volgende opdrag gegee: 12“Neem hom en hou 'n oog oor hom! Moet hom geen kwaad aandoen nie, maar doen aan hom presies soos hy jou versoek.” 13Hy het die boodskap na Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, die rabsaries Nebusasban, die hoofbevelvoerder Nergal-Sareser en al die belangrike persone van die koning van Babilonië gestuur. 14Hulle het Jeremia uit die binnehof van die wagte se kwartiere laat haal. Hulle het hom aan Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, oorhandig om hom huis toe te neem. So het hy tussen die mense bly woon.
15Die woord van die Here het tot Jeremia gekom terwyl hy nog in gevangenskap was in die binnehof van die wagte se kwartiere: 16“Gaan praat met Ebed-Meleg, die Kussiet en sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek sal my woord teen hierdie stad in vervulling laat gaan – ten kwade en nie ten goede nie. Dit sal op daardie dag voor jou oë gebeur. 17Maar Ek sal jou red op daardie dag,” ’ is die uitspraak van die Here. ‘ “Jy sal nie oorgelewer word in die hande van die mense vir wie jy bang is nie. 18 Ja, Ek sal jou beslis laat vrykom; deur die swaard sal jy nie val nie. Jy sal jou lewe vir jouself as buit behou omdat jy op My vertrou het,” is die uitspraak van die Here.’ ”

Currently Selected:

Jeremia 39: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jeremia 39