YouVersion Logo
Search Icon

Job 36

36
1 Elihu het voortgegaan en gesê:
2“Wees nog 'n rukkie geduldig met my,
sodat ek jou kan onderrig.
Want daar is nog meer te sê oor God.
3Ek sal my kennis ver gaan haal,
en ek sal erkenning gee aan
die geregtigheid van my Maker.
4Ja, dit staan vas:
My woorde is nie leuens nie;
iemand met volmaakte kennis
is hier by jou.
5 Kyk, God is magtig,
maar Hy verwerp niemand nie –
magtig, met 'n hart wat sterk is.
6Hy hou goddeloses
nie aan die lewe nie,
maar die reg van magteloses
handhaaf Hy.
7 Hy wend van regverdiges
sy oë nie af nie,
maar saam met konings
laat Hy hulle vir altyd
op die troon sit,
sodat hulle verhewe is.
8“En as mense met kettings geboei is,
gevange geneem is met toue van verdrukking,
9dan hou Hy hulle dade aan hulle voor,
ook hulle oortredinge –
dat hulle hulle magtig voorgedoen het.
10 Hy maak hulle ore oop
vir teregwysing,
en gee opdrag dat hulle
moet wegdraai van onreg.
11As hulle gehoorsaam is
en Hom dien,
sal hulle hulle dae afsluit in voorspoed,
hulle lewensjare met wat aangenaam is.
12Maar as hulle nie luister nie,
sal hulle die rivier oorsteek,
en sal hulle sterf
asof sonder enige kennis.
13Hulle wat oortuigde godloses is,
hoop toorn op;
hulle roep nie aanhoudend om hulp nie,
selfs al boei Hy hulle.
14Hulle lewens kom
op 'n jong ouderdom tot 'n einde –
hulle lewens by manlike
tempelprostitute.
15Hy red magteloses
deur hulle verdrukking;
Hy maak deur beproewing
hulle ore oop.
16“ Meer nog, Hy het jou weggelok
uit die kake van benoudheid;
'n onbeperkte ruimte
is in die plek daarvan –
die rustigheid van jou tafel vol ryk kos.
17Jy is vol oordeel oor goddeloses;
oordeel en vonnis is jou voorland.
18Ja, pasop dat jy nie
deur oorvloed mislei word nie;
die grootte van 'n omkoopgeskenk
moet jou nie verlei nie.
19 Sal jou rykdom en al die
inspanning van jou kragte
vir jou 'n front vorm,
sodat jy nie in nood verkeer nie?
20Moenie smag na die nag,
om mense uit hulle blyplek
te verwyder nie.
21 Pasop!
Moet jou nie tot onreg wend nie;
want dit is die rede waarom jy
deur verdrukking getoets word.
22 Kyk, God is verhewe deur sy krag.
Wie is 'n leermeester soos Hy?
23 Wie het Hom al
tot verantwoording geroep
oor sy optrede?
Wie het al gesê,
‘U het onreg gepleeg!’?
24“Onthou dat jy sy werk,
wat deur mense besing word,
moet verheerlik.
25Die hele mensdom aanskou dit
met vreugde;
sterflinge kyk van ver af daarna.
26 Kyk, God is verhewe –
ons kan dit nie eers bedink nie;
die getal van sy jare –
dit kan nie nagespeur word nie.
27 Want Hy trek druppels water op;
dit word vir sy ondergrondse rivier
oorgeskink tot reënwater
28wat die wolke uitstort,
wat hulle oorvloedig laat drup
op die mense.
29 Verder, verstaan mens
die uitbult van 'n wolkbank,
die donderslae uit die hut van God?
30 Kyk, Hy sprei sy weerlig
oor die wolkbank uit;
die wortels van die see bedek Hy.
31 Ja, daarmee oordeel Hy volke;
so gee Hy ook kos in oorvloed.
32Albei sy hande is vol weerlig,
en Hy beveel dit
om die teiken te tref.
33 Sy donderende stem
kondig die storm aan,
ook die vee vertel dat dit nader kom.

Currently Selected:

Job 36: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in