YouVersion Logo
Search Icon

Josua 10

10
Verowerings in die suide
1Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het, dat hy met Ai en sy koning gedoen het wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gesluit het en tussen hulle was, 2het hy vreesbevange geword. Gibeon was immers 'n groot stad, soos een van die koningstede – ja, dit was groter as Ai, en al sy manne was helde. 3Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe 'n boodskap na Hoham, die koning van Hebron, na Piram, die koning van Jarmut, na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon met die woorde: 4“Trek op na my toe, en help my dat ons Gibeon aanval; want hulle het met Josua en die Israeliete vrede gesluit.”
5Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom en opgetrek – die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon – hulle met al hulle leërs. Hulle het Gibeon beleër en teen die stad oorlog gevoer. 6Die manne van Gibeon het hierdie boodskap na Josua gestuur, na die kamp by Gilgal: “Moet u dienaars nie in die steek laat nie! Trek gou na ons op! Red ons en help ons! Want al die konings van die Amoriete wat in die bergland woon, het teen ons saamgetrek.”
7Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. 8Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” 9Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. 10Die Here het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda.
11Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die Here groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. 12Dit was in dié tyd dat Josua met die Here gepraat het, die dag toe die Here die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê:
“Son, staan stil in Gibeon,
en maan, in die vallei van Ajalon! ”
13En die son het stilgestaan
en die maan het gaan staan,
totdat 'n nasie wraak geneem het
op sy vyande.
Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. 14Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die Here geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die Here het vir Israel geveg.
15Josua en die hele Israel saam met hom het na die kamp in Gilgal teruggekeer. 16Hierdie vyf konings het egter gevlug en in die grot by Makkeda weggekruip. 17Aan Josua is berig gebring: “Die vyf konings is gevind waar hulle wegkruip in die grot by Makkeda.” 18Josua het gesê: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en stel manne daar aan om hulle op te pas. 19En wat julle betref, julle moet nie bly staan nie; agtervolg julle vyande en val hulle van agter aan. Moet hulle nie toelaat om hulle stede te bereik nie, want die Here julle God gee hulle in julle hand.”
20Nadat Josua en die Israeliete hulle klaar 'n baie groot nederlaag toegedien het, totdat hulle uitgewis was – die vrygeraaktes onder hulle het ontvlug en in die versterkte stede aangekom – 21het al die manskappe veilig teruggekeer na die kamp, na Josua in Makkeda. Niemand het 'n woord teen die Israeliete gesê nie.
22Josua het gesê: “Maak oop die ingang van die grot en bring hierdie vyf konings uit die grot na my toe.” 23Hulle het dit toe gedoen. Hulle het hierdie vyf konings uit die grot na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon. 24Nadat hulle hierdie konings na Josua uitgebring het, het Josua al die manne van Israel geroep. Hy het vir die •aanvoerders van die krygsmanne wat saam met hom gegaan het, gesê: “Kom nader! Sit julle voete op die nekke van hierdie konings!” Hulle het toe nader gegaan en hulle voete op die nekke van die konings gesit. 25Josua sê toe vir hulle: “Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Wees dapper en sterk, want so sal die Here met al julle vyande maak teen wie julle gaan veg. ”
26Daarna het Josua die konings neergevel en hulle doodgemaak. Hy het hulle aan vyf pale opgehang, en hulle het aan die pale bly hang tot die aand. 27Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle is van die pale afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Groot klippe is voor die ingang van die grot gepak, wat tot vandag toe nog daar is.
28Josua het ook Makkeda op daardie dag ingeneem, en die stad en sy koning met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het hulle en elke persoon daarin met die banvloek getref. Hy het niemand laat vrykom nie. Met die koning van Makkeda het hy gemaak soos hy met die koning van Jerigo gemaak het.
29 Josua en die hele Israel saam met hom het toe van Makkeda af na Libna getrek en teen Libna oorlog gevoer. 30Die Here het ook Libna en sy koning in Israel se hand gegee. Hy het die stad en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het niemand daarin laat vrykom nie, en hy het met sy koning gemaak soos hy met die koning van Jerigo gemaak het.
31Josua en die hele Israel saam met hom het toe van Libna af na Lagis getrek. Hy het dit beleër en teen die stad oorlog gevoer. 32 Die Here het Lagis in die hand van Israel gegee. Josua het die stad op die tweede dag ingeneem en dit en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan, net soos hy met Libna gemaak het. 33Dit was in dié tyd dat Horam, die koning van Geser, opgetrek het om Lagis te help, maar Josua het hom en sy manskappe so verslaan dat hy niemand vir Horam laat vrykom het nie.
34 Josua en die hele Israel saam met hom het van Lagis af getrek na Eglon. Hy het dit beleër en teen die stad oorlog gevoer. 35Hulle het die stad op dieselfde dag ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan. Elke persoon daarin het hy nog dieselfde dag met die banvloek getref, net soos hy met Lagis gemaak het.
36Daarna het Josua en die hele Israel saam met hom van Eglon af na Hebron opgetrek en teen die stad oorlog gevoer. 37Hulle het dit ingeneem en die stad met sy koning, al sy dorpies en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het niemand laat vrykom nie, net soos hy met Eglon gemaak het. Hy het die stad met elke persoon daarin met die banvloek getref. 38Josua en die hele Israel saam met hom, het omgedraai na Debir en teen die stad oorlog gevoer. 39Hy het dit met al sy dorpies ingeneem. Die koning het hy gevange geneem. Hy het hulle met die skerpte van die swaard verslaan, elke persoon daarin met die banvloek getref en niemand laat vrykom nie. Soos hy met Hebron gemaak het, so het hy ook met Debir en sy koning gemaak, net soos hy met Libna en sy koning gemaak het.
40Josua het die hele land verslaan, die bergland, die Negev, die Sjefela en die berghange met al hulle konings. Hy het niemand laat vrykom nie. Alle mense het hy met die banvloek getref, soos die Here, die God van Israel, beveel het. 41Josua het hulle verslaan van Kades-Barnea tot by Gasa. Die hele Gosenstreek tot by Gibeon – 42al hierdie konings en hulle land het Josua met een veldtog verower, want die Here, die God van Israel, het vir Israel geveg. 43Josua en die hele Israel saam met hom, het teruggekeer na die kamp by Gilgal.

Currently Selected:

Josua 10: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in